Die onlangse gebeure waarin ’n vrag op dr. Moodie se bakkie geval het, herinner aan iets uit ’n gruwelfliek. Ek ry dikwels daar verby nadat ek by die koffiewinkel by die nuwe winkelsentrum verby is.

Ek het al gewonder oor die veiligheid daar, aangesien daar altyd werkers sonder toesig rondstaan. Dit begin daar lyk soos ’n hindernisbaan.

Oral word veiligheidskomplekse opgerig. Tussen die N1 en nuwe winkelsentrum is daar reeds drie. Anderkant die N1 is daar reeds borde opgerig vir nuwe uitbreidings. Alles is sekerlik met korrekte prosedures en toestemming? Dit benodig infrastruktuur vir die toestroming van mense.

Ek weet nie wie verantwoordelikheid vir padwerke neem nie, maar op die Drakenstein-plaaswag (DFW) se video kan duidelik gesien word daar is net een drywer sonder enige toesig. Verder lyk dit of munisipale werkers ’n bietjie verder aan besig is om vullis op te tel en lekker grappies te maak. Ek weet nie op watter vlak aanspreeklikheid geneem moet word nie –munisipaal, provinsiaal of kontrakteur?

Ek weet ook nie hoe die aflaai behoort te geskied nie, maar op die video gaan die bak net al hoër en val dan om met die drywer wat skarrel vir sy lewe. Ek neem aan hy is opgelei om ’n vragwa te bedryf?

Ek hoop hierdie ongeluk word deeglik ondersoek om te verhoed dat so iets weer gebeur. Niks kan egter vergoed vir die erge trauma wat ’n 11-jarige moet deurmaak vir ’n ongeluk wat verhoed kon word nie.

Te veel dinge in hierdie land gebeur sonder enige gevolge. Mense se lewe word in ’n oogwink weens nalatigheid verwoes. Die paaie is gevaarlik ten spyte van belasting- en lisensie-gelde wat betaal word om dit te beveilig.

Intussen word ons paaie deur enigiets wat beweeg, gebruik. Voetgangers wat kortpad neem, onpadwaardige voertuie, taxi’s wat eenvoudig stop waar hulle wil, motors wat gevaarlik in die geel streep langs die pad staan, voertuie sonder kopligte in die nag, motorfietse wat dink hulle is op Killarney, fietsryers wat ry asof die pad aan hulle behoort, bromponies wat voortbrom en verkeer ophou, lorries wat mekaar probeer verbysteek in die vinnige baan en kamikaze-taxi’s wat ry of hulle op selfmoord-sendings is.

Dit kan reggestel word, en ons verdien beter. Dring by die owerhede aan om aksie te neem en moenie verduidelikings aanvaar wat nie geloofwaardig is nie. Saam kan ons ’n verskil maak.


Eugene du Plessis,

Noorder Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.