Sedert Augustus verskaf die Wellington-nagskuiling maatskaplike dienste om mense op straat ’n vernuwende blik en kans op die lewe te gee. Sover is 18 begunstigdes reeds suksesvol geherintegreer.
“Dit gaan goed met die nagskuiling se bedrywighede. Ons het nou al elke mens leer ken, so ook die verskillende prosesse betrokke om op die ou einde die ‘straatslaper’ se menswaardigheid binne voorgeskrewe norme en standaarde te herstel.”
So vertel die besturende direkteur van Networking for Christ (NFC), Ulrich Lottering, wat die tender vir die nagskuiling se bestuur van Drakenstein-munisipaliteit ontvang het.
Hy en (onder andere) sy span maatskaplike werkers wat belangrike take op die NG Moederkerk-perseel in Wellington verrig, stap al sedert 2016 ’n pad saam met mense op straat.
“Ons werk al ’n paar jaar met mense en in 2022 het ons die geleentheid met die Wellington-nagskuiling losgeslaan. Ons het werklik ’n passie vir mense en om uit te gaan en dié gebroke van hart te help genees.”
Daar is tans 27 begunstigdes, 15 mans en 10 vroue, wat die tydelike huisvesting en deelname aan verskillende werksessies in die nagskuiling geniet. ’n Verdere 25 mense op straat is weens die oorstromings in ’n afsonderlike gedeelte van die Wellington-nagskuiling geplaas om snags ’n droë skuiling te geniet tot die huidige ramptoestand amptelik verby is.
“Soos een mens suksesvol geherintegreer word, en / of met hul familie verenig word, word ’n ander mens van ons waglys direk ingeskakel om dieselfde pad na herstel saam met ons te stap,” verduidelik NFC se maatskaplike-werker, Audrey Abrahams.
Die proses om ’n persoon waardig van die lewe op straat te verlos is geen maklike taak nie, volgens NFC se span.
“Die hoofredes waarom mense hier op straat beland, het te doen met ’n familietwis, of gevangenes wat hul vonnis klaar uitgedien het, of dit is mense wat van ver af kom en mettertyd op straat beland,” vertel Lottering.
Hy verduidelik dat diegene wat van verre provinsies afkomstig is, hoofsaaklik na die Boland toe kom vir werksgeleenthede, “maar dan val die werk plat, of dit was net tydelik, en dan het die mense geen manier om terug te keer huis toe nie”.
In die nagskuiling poog NFC om begunstigdes weer met hul families in kontak te plaas om uiteindelik weer in hul tuisdorp herenig te word. Tog is daar gevalle waar die persoon nie meer kontakbesonderhede vir sy familie het nie.
“Dit is wanneer die proses langdradig raak, want ons neem ernstige stappe om hul familie op te spoor. Dit verg dikwels dat ons die relevante polisie in die vergeleë dorpe of stede kontak om te help. Die polisie gaan dan uit hul pad uit om diegene se familie op te spoor. Eers dan kan die proses van hereniging bewerkstellig word,” verduidelik Abrahams.
NFC het al daarin geslaag om mense van so ver as Johannesburg, Queenstown, die Oos-Kaap, Vrystaat, Kuilsrivier, en Wolseley veilig terug huis toe te stuur.
“Dan is daar nou weer ander gevalle waar die familie botweg weier om kontak te maak. Dan moet ons maatskaplike werkers se deursettingsvermoë inskop om ook aan dié gebroke verhoudings te werk en ons beste pogings aanwend om harmonie te bewerkstellig,” sê sy sag.
Nog ’n groot uitdaging wat hulle aanpak om haweloses weer in werkende burgers om te skep, is om hulle met identiteitsdokumentasie te bemagtig. “Gereeld word mense op straat van al hul min besittings beroof. Dit sluit in die diefstal van hul dokumentasie.”
Tot dusver het die nagskuiling 35 identiteitsdokumente help voorsien, te danke aan die samewerking van die departement van binnelandse sake.
“Die departement kom op een dag spesiaal na die Wellington-nagskuiling om die foto’s en vorms vir hul ID’s te hanteer. Daarvoor is ons so dankbaar,” meen Lottering.
Steeds is daar straatslapers
Maar daar is uiteraard steeds rondlopers in die dorp wat glo drink, urineer of slaap op straat, veral in Wellington se sakekern, Hoof-, Fontein- en Pentzstrate. Hierteen maak die Wellington-belastingbetalersvereniging (WBV) nog altyd kapsie, met die hoop om algehele orde in Wellington se strate te herstel. Maar veral omdat die Wellington-nagskuiling (wat deur die munisipaliteit gefinansier word) ten volle operasioneel is.
Uiteraard glo die WBV se Christine Marais dat haweloses deur diegene buite die amptelike NFC-netwerk wat in hul onbaatsugtigheid kos uitdeel veroorsaak dat haweloses op só ’n wyse steeds na die straat “gelok word”.
“Hoekom gee verskillende organisasies die straatslapers kos op straat? Word dit nie deur die nagskuiling of Drakenstein-munisipaliteit gekoördineer op die nagskuiling-perseel nie? Julle is veronderstel om […] presies te weet wie betrokke is by hierdie mense; hoekom maak julle nie van hul dienste gebruik nie?
“Hierdie gebrek aan kommunikasie of koördinasie lei daartoe dat mense straat toe gelok word sonder enige menswaardigheid,” meen Marais in ’n ketting e-posse aan die nagskuiling se bestuur.
In reaksie daarop sê Lottering: “Ons wend daagliks pogings aan om nog mense wat op straat slaap te help. Maar (van) hierdie mense weier om te kom […] Ons kan net dienste lewer aan diegene wat daarvan gebruik wil maak.”


