Met penne en wol is mense van heinde en ver besig om die Wellingtonse ACVV-tak te ondersteun in hul doel om ’n Kersboom vol kleurvolle wolblokkies teen Desember staan te maak.
Die ACVV beoog om dit teen 9 Desember in Victoriapark in Wellington op te rig, sodat so veel mense moontlik daarna kan kom kyk.
As deel van hul “Tree of Hope”-projek word handvaardiges aangemoedig om kleurvolle gehekelde of gebreide blokkies van 15 cm x 15 cm te skenk. Die plan is om ’n keëlvormige stellasie, wat 10 meter hoog is, daarmee oor te trek. Die “wolboom” sal ’n maand lank te siene wees as dit reg verloop.
Oorblywende lappies sal aanmekaar gewerk word om winterkomberse vir behoeftiges te word. Kleiner blokkie-boompies sal ook gemaak word om geld vir die maatskaplike projekte van die plaaslike ACVV-tak in te samel.
Tans word tesame met Cape Formwork Contractors beplan aan presies hoe die raamwerk van die boom, waarop die blokkies as Kersversierings gehang sal word, moet lyk. ’n Geldinsamelingsveldtog om vir die boumateriaal van die stellasie te betaal, is ook aan die gang.
Sorita Stofberg, die voorsitter van die ACVV se Wellington-tak, het die idee daarvoor gekry toe sy foto’s van soortgelyke projekte in onder meer Italië en Nieu-Seeland op sosiale media gesien het. Sy reken dit sal uitstekende reklame vir die dorp wees.
“Ons wil ’n ikoon staanmaak wat die hele gemeenskap in staat sal stel om te geniet, te bewonder, saam te bind, rondom dit te vergader en die Kerstyd te vier,” sê sy. “Ons wil ook geld vir die ACVV-Wellington insamel om die gemeenskapsdienste wat ons afdeling vir maatskaplike dienste verrig, te help finansier.”
Omdat dit vir haar en haar mede-ACVV-vrywilligers belangrik is om ook ’n gesellige komponent aan die projek te koppel, het hulle die afgelope paar maande gereelde samekomste gereël waar mense saam kon brei en hekel. Die eerste daarvan was ’n gesellige Saterdagmiddag in die Wimpy, om die internasionale Brei-in-die-openbaar-dag oor ’n koppie koffie te vier. Daarna is byeenkomste by onder meer die Kuierstoep, by Silwerkruin-ouetehuis, die Wellington-ACVV-dienssentrum en Wellington-bejaardesorg gehou.
“Al hierdie inisiatiewe word deur ons fantastiese vrywilligers gereël,” verduidelik Sorita. “Die toegangsfooi is elke keer nie-bederfbare produkte wat ons later as deel van ons ACVV-kostrollieprojek aan minderbevoorregtes uitdeel.”
Sedertdien het die ondersteuning van mense van heinde en ver reeds haar span se stoutste verwagtinge oortref. Daarvan getuig foto’s en inskrywings op die projek se Facebookblad (www.facebook.com/Treeofhopeproject).
Hulle is baie dankbaar vir die begeesterde wyse waarop ander groepe, organisasies en individue inkoop by die idee. Van Soeterus-bejaardes tot Sunfield Homes en Wellington VLV en van die Noord-Kaap tot in Stellenbosch het mense al blokkies, gehekelde blommetjies en wol gestuur.
Volgens Sandra Franke, die bestuurder van die ACVV-winkel op Wellington, is selfs skenkings van wol baie waardevol. Dié word uitgedeel aan mense wat graag wil help om blokkies vir die projek te hekel of te brei.
“Alles is bruikbaar,” verduidelik sy.
Sorita hoop die inisiatief sal toeriste na die dorp lok. Sy hoop ook die idee agter die Wellington-ACVV-tak se Boom van Hoop-projek vat landwyd pos sodat ander dorpe ook in komende jare hul eie handgemaakte Kersbome sal wil oprig. Sy sê sy stuur graag die stellasie wat hulle beplan vir ’n volgende dorp aan as hulle dit ook wil doen.
Mense wat blokkies wil skenk, kan dit tot einde Oktober doen. Dit kan by die ACVV-winkel in Malherbestraat in Wellington afgelewer word.
Vir navrae kontak Sorita Stofberg by 082 415 1598.. Tans word beplan om die Kersboom op 9 Desember in Victoriapark in te wy, en ook ’n Kersmark en ’n “Carols by Candlelight”-geleentheid daar te hou. Volg die projek by www.facebook.com/Treeofhopeproject.


