Die N2-hoofweg tussen Botrivier en Caledon is weer oop vir verkeer.Foto: Theewaterskloof-munisipaliteit


Terwyl die Wes-Kaapse regering sê herstelwerk aan die Franschhoekpas (R45) kan nog tot die einde van November duur, is die goeie nuus vir motoriste en pendelaars dat die N2 tussen Botrivier en Caledon ná sowat ’n maand se herstelwerk weer oop is vir verkeer.

’n Deel van die N2-hoofweg het met erfenis-naweek se verwoestende oorstromings weggespoel, asook ’n deel van die linkerbaan op die Franschhoekpas in die rigting van Villiersdorp.

In Botrivier is verkeer met die R316 tussen Stanford en Caledon herlei, met plaaslike inwoners wat grondpaaie op die omliggende plase gebruik het.

Die Theewaterskloof-munisipaliteit het Maandag in ’n verklaring gesê die N2 is daardie middag vir verkeer heropen.

“Sanral het merkwaardige werk in ’n rekordtyd gedoen om die beskadigde gedeelte van die pad, wat tydens die September-storms weggespoel het, binne ’n maand te herstel. Die opening van die pad sal die ekstra reistyd, verkeersopeenhoping, gebruik van ompaaie en ongerief wat dit vir inwoners en motoriste veroorsaak, verlig,” lui die munisipaliteit se verklaring.

Die Wes-Kaapse departement vir paaie en infrastruktuur sê herstelwerk aan die Franschhoekpas word bemoeilik deur grondverskuiwings tydens die swaar reënval op verskeie dele van die R45-pad.

“Spanne is hard aan die werk om een baan teen die einde van November weer oop te maak. Sodra ’n enkelbaan weer oopgestel is, sal verkeer deur ’n stop-en-ry-stelsel bestuur word. Dit is egter onwaarskynlik dat swaar voertuie (dadelik) toegelaat sal word om die pas te gebruik,” sê die departement.

You need to be Logged In to leave a comment.