Waterbessie (Syzygium cordatum) is sy naam in die grootste deel van die land, maar in sy hartland, KZN, noem hulle hom umdoni, die naam wat die Zoeloes hom gegee het en wat reeds teen 1854 opgeteken is. Daar is selfs ’n Umdoni-munisipaliteit langs die suidkus van KZN, halfpad tussen Durban en Port Shepstone.
Hierdie middelgroot (in ons omgewing), bladhoudende boom se natuurlike verspreidingsgebied strek egter veel wyer – van die Visrivier in die Oos-Kaap noordwaarts, deur KZN tot in Mosambiek. Hy word ook aangetref in Eswatini, Mpumalanga, en selfs in die Caprivi-strook.
Volgens die webwerf van die SA Biodiversiteitsinstituut aard hy baie goed – amper té goed– in die Bettysbaai-omgewing.
Soos die naam aandui, is die boom op sy gelukkigste naby water. Sy gunsteling-groeiplekke sluit in rivieroewers en moerasgebiede. Dit pla hom nie om lang tye in versuipte grond te moet staan nie.
Trouens, dis waarskynlik in moerasgebiede waar die grootste waterbessiebome aangetref word. Palmer en Pitman in Trees of Southern Africa haal aan uit ’n artikel van 1938 waar die skrywer vertel van ’n moeras-woud waar groot waterbessies letterlik bo-op die moeras (“quagmires” ) staande gehou word deur hul ontsaglike, uitgespreide wortels. Die boom is egter aanpasbaar wat dit betref – in die noordelike voorstede van Kaapstad staan heelwat waterbessies op sypaadjies en in parke, ver van enige oppervlak-water, en hulle lyk heel gelukkig.
Skaars
In die Paarl is hulle verbasend skaars. Van hulle staan in die arboretum, maar in die dorp self het ek gesukkel om een op te spoor. Uiteindelik het ’n goeie vriend, wat ’n wandelende ensiklopedie oor ons dorp se bome is, my na die Boy Louw-sportveld langs die Boulevard (oorkant die Mediclinic) beduie.
Daar, agter die munisipale kantoortjie van die terreinbeampte, het ek dié mooi ou waterbessie aangetref, wat op die foto verskyn.
Waterbessies is effens bestand teen veldbrande danksy hul dik, kurkagtige bas, maar hulle is nie lief vir die koue noordwestewinde wat in die winter in die Weskus voorkom nie.
Daar is duidelike ooreenkomste tussen die Suid-Afrikaanse waterbessie en die Australiese eugenia.
Hulle behoort tot dieselfde genus, Syzygium. Albei spesies is immergroen. By albei is die jong blare rooierig van kleur. Albei se blomme het die poeierkwas-vorm. Albei se vrugte is eetbare bessies. (Dié van die waterbessie verkleur van ligrooi na diep-pers, feitlik swart, namate hulle ryp word, en daar kan glo ’n smaaklike jellie van hulle gekook word.)
Daar is egter ook verskille tussen die twee spesies: Die waterbessie het growwer lower met groter blare wat ’n blougroen kleur het. ’n Onderskeidingskenmerk van die waterbessie is dat jong lote vierhoekig (i.p.v. rond) in dwarssnit is weens vier verhewe riwwe wat in die lengte van die loot loop.
Die waterbessie is redelik bestand teen matige koue, maar nie teen strawwe ryp nie.
Dit is een van ons vinnigs-groeiende inheemse bome – tot een meter per jaar in hoogte. In subtropiese gebiede soos KZN kan die boom se wortelstelsel probleme verskaf, maar in die Boland met sy mediterreense klimaat word baie min probleme met die wortelstelsel ondervind.
Waterbessies is uitstekende nektarbome, gesog onder byeboere wat staanplekke vir hul korwe soek. Dis nie verrassend nie om te verneem dat die waterbessie se hout bekend is daarvoor dat dit baie lank in water hou.
Volgens Palmer en Pitman is daar ’n opgetekende geval van ’n waterwiel, gemaak van die boom se hout, wat ná 22 jaar nog niks makeer het nie.