“Ek klim nie meer op die skaal nie!” sê die pragtige vrou voor my. Sy het ook nie nodig nie, sien ek dadelik. ’n Bevryde vrou uit ’n ander oogpunt? Ek hou daarvan. Ek het ook agtergekom dat ’n mens maar sonder lipstiffie dorp toe kan gaan. Jy hoef ook nie altyd jou beste voet voor te sit nie, al twee voete is jou beste voete! Ek vind ook uit dat wanneer my hele huis vol speelgoed lê, ek die gelukkigste is.

“Die bevryde vrou.” Ek vind uit dat om ’n bevryde vrou te wees, is om haar eie keuses te maak, haar eie pad te loop en haar eie potensiaal te verwesenlik sonder enige beperkings of onderdrukking. Dit beteken ook sy is in staat om haar regte en vryhede te geniet en haar stem te laat hoor in die samelewing. Verder beteken dit ook sy is vry van enige vorm van geweld, diskriminasie of onderdrukking. En dit is goed so.

Ek verkies om my ou paadjie saam met my allerliefste te stap. Behalwe dat my aardrykskunde my in die steek laat, help die son se posisie ook nie vreeslik baie nie. Die see bly darem op een plek, maar die see is nie oral nie. Ek is nog ongeleerd in sterrekunde se fyner punte. En die Bybel se twee is beter as een, maal in my kop.

Seer raak my hart toe ek die straatkinders sien. Nog seerder as ek hoor wat hulle toegesnou word. Ek dink toe aan Ingrid Jonker se gedigte: “Die kind in my het stil gesterf / verwaarloos, blind en onbederf” asook “Ek is die lappop wat nie praat en maak net op jou liefde staat”. Is dit nie maar wat kinders doen nie, maak staat op liefde nie? Maak daarop staat dat ma sal salfies opsit op denkbeeldige seerplekke, trane sal afvee oor ’n skoenlapper wat weggevlieg het, kos, ’n warm bed, klere. Die mees basiese goedjies.

“Ek weet nie eens hoekom hét ek ’n ouma nie!” kom dit van my vyfjarige kleinseun. Hy gooi die ou klein handjies moedeloos in die lug. Dit gaan alles oor samesprekings wat ons gehad het oor lekkergoed vóór ete wat nou ’n dooie punt bereik het. Met geboë skouertjies stap hy die kombuis uit. “Ek het ’n swaar lewe,” praat hy met homself en skud sy kop heen en weer in medelye met homself.

“Ouma! Ouma!” word ek geroep. Hy kom opgewonde in die kombuis. “Ouma, ek het hierdie een lekkergoed gekry, net één, kan ek nie nét vir vandag (hy maak sy oë groot om die erns van die saak te beklemtoon) ’n lekkergoed voor ete kry nie?” Ek weet toe oupa het lekkergoed strategies geplaas sodat kinderhartjies verbly kan word en ek kniel voor hom. Ek druk sy sagte lyfie teen my. “Natuurlik,” sê ek terwyl warm trane ongehinderd oor my wange loop en ek stilweg bid vir elke liewe kind in die land.

Die vrou is die hart van liefde. Met elke stap wat sy neem, skep sy ’n spoor van moed en deursettings­vermoë. ’n Vrou se teenwoordigheid bring ’n vlaag van vrede en harmonie vir dié wat saam met haar is. Sy is die meesterlike balans tussen sorg en selfsorg, tussen liefde vir ander en liefde vir haarself.

Dan kom Don Quixote en hy sê: “ . . . die geldstuk waarmee jy alles kan koop, die gewiggie op die skaal wat die skaapwagter gelyk stel met die koning, die eenvoudige man met die wyse”. En ons kinders loop in die strate rond en bedel, staan op hoeke van strate, hul oë en mond wys van verkeerde dinge, verweerde gesiggies, oorgrote klere, kaalvoet, honger. Hier het die geldstuk ook sy waarde verloor, want liefde kan nie gekoop word nie. Baie vind eers uit as hulle self liefde desperaat nodig het, dit terwyl hulle met die gesogte geldstuk in hul hand staan. ’n Vrou vertrou nie op ’n gesogte geldstuk nie, sy weet liefde kan nie gekoop word nie, daarom is sy ’n lewende bewys dat vroue die vermoë het om die ontmoont­like moontlik te maak en in haar skuil die wete dat liefde alles oorwin.

In Spanje word jaarliks ’n wedstryd gehou waar volksdigters hul poësie aan die skare kom voordra. Die derde beste ontvang ’n roos van silwer, die tweede beste ontvang ’n roos van goud en die eerste prys is ’n pas-ontluikte egte roos.

Ek kan nie help om André P. Brink aan te haal nie as hy sê: “Enige land waar die lewe op so ’n instelling berus, besit die soort skat waarvoor ’n mens al jou besit­tings kan verkoop.” Vandag gee ek graag vir elke vrou ’n pas-ontluikte egte roos, want ek glo in my hart dat elke vrou en ma altyd haar beste vir haar geliefdes gee, al is dit ook hoe krom en skeef.

You need to be Logged In to leave a comment.