As die lewe jou ‘n tweede kans bied, dan gryp jy dit met albei hande aan, want jou tweede kans is dalk jou enigste en laaste kans vir die res van jou lewe.

Ons almal kan seker onthou van ’n keer of kere uit ons verlede toe ons dit sommer goed opgeneuk het. Die graad van erns oor die oortreding mag van persoon tot persoon verskil, maar niks kan weggeneem word van die feit dat jy ’n oortreding begaan het nie.

Ek onthou een van my eie oortredings toe ek nog op kosskool was (donkie jare gelede).

My einde-van-die-jaar-skelm-partytjie saam met die maters het in ’n fiasko ontaard. Ek het in die skoolhoof se kantoor geëindig. My ma was by en moes die pleitwerk doen nadat ek uit die koshuis geskors is. “Asseblief meneer, gee hom tog net nog een kans.”

Ek is daardie kans gegun en het fyn in my spoor getrap van toe af. My pa weet tot vandag toe nog nie van hierdie insident nie.

Daar het nog ’n paar insidente oor my pad gekom. Ek kan met groot dankbaarheid terugkyk en die lesse daaruit geleer saamneem op my reis die toekoms in. Helaas is niemand van ons perfek nie. Ons maak almal foute. Elke dag. Daar is egter dié van ons vir wie die oortreding of fout fataal van aard is en die gevolge daarvan jou vir ’n leeftyd kan agtervolg. Ek het onlangs so ’n persoon ontmoet. Die vier hoeke van die gevangenis was die uiteinde van sy oortreding. Vyf jaar binne-straf en nog vyf jaar op parool. Dit was tydens sy tydperk aan die binnekant dat hy die werklike impak van sy oortredings besef het en daarmee saam die keuse gemaak het om ’n beter mens daar uit te stap. Sy eerste tree na ’n tweede kans in die lewe is gemaak. Die integrasieproses terug na die samelewing was nie maklik nie, maar uiteindelik is ’n lewenslyn in die vorm van ’n voltydse werk na hom uitgereik.

Tydens sy tydperk in die gevangenis het hy sy foute uit die verlede, maar ook sy hoop vir die toekoms in digvorm begin neerpen. Dit sou sy boodskap van vergifnis wees aan dié wat hy skade aangedoen het. Dit sou sy kaartjie na ware vryheid en ’n verdiende tweede kans in die lewe word. Daardie droom van hom was byna verpletter toe ’n verwoestende brand alles in en rondom sy informele huisie vernietig het. Net die manuskrip met sy gedigte het die verswelgende vlamme oorleef. Dit was nog ’n teken. Sy storie van ’n tweede kans in die lewe moes ander se oë en ore bereik. Dit het. Die persoon se boodskap van hoop het in boekvorm verskyn. Die reis na vergifnis en heling kon begin.

“Ek het gewens hy kon doodgaan, want hy het soveel seer veroorsaak, maar vandag is ek bly dat ek hom kan vergewe en weer respek kan betoon aan ’n man,” kom die woorde van ’n ouma wat die hartseerkant van sy storie beleef het.

Ons moet erken dat nie elke oortreder daardie tweede kans in die lewe gegun word nie. Veral nie diegene wie se paaie met die gereg gebots het nie. Herintegrasie in die samelewing word hier ’n groot uitdaging, want watter werkgewer sal kans sien om ’n persoon met ’n kriminele rekord nog ’n kans vir oor-begin te gee? ’n Mens kan dit verstaan, maar tog laat dit die vraag ontstaan of ons nie juis daardie persone faal en hulle uiteindelik terug dryf na ’n bestaan wat bekend is en sodoende ’n verdoemende siklus in stand hou nie. Vir dié wat op meriete daardie tweede kans in die lewe ver­dien, is dit noodsaaklik dat ons daar­die kanse skep, want hoe dan anders?

Daar is nog soveel stigmas wat kleef aan die persoon wat ’n fout begaan het. Al het die persoon ten volle geboet vir sy of haar dade is ons tog so geneig om nog steeds die aard en pynlike detail van die oortreding aan die groot klok te hang. Ja, daar is die gevalle waar persone volhard in hul misdadige gedrag en verdien dus daarmee saam die gevolge van sodanige gedrag.

Daar is egter ook die gevalle waar ’n persoon werklikwaar ’n tweede kans vir oor-begin verdien. Diesulkes, glo ek, het ’n enorme bydrae om te lewer en kan bewys lewer dat daar in elke persoon die mooi en goed opgesluit lê wat tot voordeel van ons samelewing ingespan kan word.

Dalk is jou oortreding nie so opsigtelik van aard nie en kan jy vir jare daarmee wegkom. Ek hoop vir jou onthalwe dat dit jou nie uiteindelik ook deel gaan maak van die statis­tieke in ons land nie en dat jy gou genoeg sal besef dat niemand van ons gevrywaar word van die einas in die lewe nie. Laat my dink aan die woorde wat iemand eenmaal gesê het . . . Jy is nooit te sleg om goed te word nie en nooit te goed om sleg te word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.