Die voorbladberig (Paarl Post van 27 Februarie 2025) rakende mnr. Conrad Poole se onbenydenswaardige vertrek vanuit die Drakenstein- politieke arena en sy meteoriese bevorderingstrajek daarna, is reeds in Februarie / Maart 2024 ernstig bevraagteken. Dit is en bly nog steeds ’n klip in die maag van die oorgrote meerderheid denkende DA-ondersteuners, ek inkluis.

My boekie van gesegdes wat ek al jare opdateer, bevat twee juweeltjies wat so absoluut van toepassing op hierdie geval is:

Two wrongs never make a right; en

Mediocrity should never be rewarded.

Jammer vir die Engels, maar dit vat net die begrip beter in hierdie omstandighede vas.

Die verduideliking van Helen Zille rakende die keuringsproses en die feit dat Poole nie die toets “geslaag” het nie, is eintlik irrelevant.

Wat wel relevant is, is dat ’n persoon wat geweeg en te lig bevind word (met ondersteuning vanuit sy / haar eie koukus) op munisipale vlak, deur die DA geag opgewasse te wees om eers na die provinsiale parlement en blitssnel daarna na die nasionale parlement bevorder te word.

Soos ’n sakevriend verlede jaar tereg aan my gevra het, watter houvas het Poole op die DA?

As die DA “al die voorgeskrewe stappe vir die werwing van kandidate” met Poole se aanstelling gevolg het, kan ’n mens nie anders as om die keuringsproses ernstig te bevraagteken nie.

Die eerste stap is tog seker om die onderhoud / toets te slaag (Ek het self die pad gestap). As dit nie suksesvol is nie, stop die proses / aansoek net daar.

Poole bevestig self dat daar altyd ’n tolk beskikbaar is om hand by te sit. As dit die geval is, dan kan dit tog seker net gaan oor die inhoudelike van die toets / onderhoud, wat dan ooglopend nie aan die minimum vereistes voldoen het nie.

Ná hierdie proses van onderhoude / toetsing, word persone gerangeer op ’n lys waarbinne die DA-hiërargie sekere skuiwe op en af kan maak om “plek te maak vir sekere kandidate” – en daar lê die knoop. Wie het hierdie onbesonne besluit geneem en waarom?

Dit is egter ook nie die grootste probleem nie, want alle partye dwars oor die wêreld doen dit, maar om iemand wat nie opgewasse is vir ’n taak nie so blatant te bevoordeel is uiterse kortsigtige politiek.

Inteendeel, dit grens aan totale minagting van die wense van die kiesers van Drakenstein, wat Poole, via hul verkose verteenwoordigers deur middel van ’n mosie van wantroue die deur gewys het.

Gaan ons nou regtig die pad van die ANC en ander soortgelyke partye stap, deur swak prestasies met bevordering te beloon?

As lojale DA-ondersteuner is dit vir myself en baie ander persone binne bestaande DA-strukture baie belangrik om hierdie onverkwiklike situasie ruim voor die 2026-verkiesing in die bed te sit.

’n Openlike gesprek sal waardeer word.


Johan Rademeyer, DRAKENSTEIN

You need to be Logged In to leave a comment.