“Ons het gesê ons gaan dit doen, en ons doen dit self.”
Só lui die sentiment van die Wellington-belastingbetalersvereniging (WBV) se voorsitter, Eugene Stapelberg, in hul nuutste projek om Wellington se poskantoor met ’n vars lagie verf te verfraai.
Die SA Poskantoor se waarnemende bestuurder van dié geskiedkundige gebou en eiendom, Marcelino van Rooyen, het die WBV die groenlig gegee om met dié opknappings te mag voortgaan.
“Eugene het my aan die begin van die jaar genader en ons het ’n ooreenkoms gesluit nadat ek die senior bestuur in Pretoria oor die opknapping van die historiese gebou verwittig het,” verduidelik Van Rooyen.
“Om so ’n historiese gebou in so ’n toestand te sien, is nie goed nie,” meen hy.
Die gebou op die hoek van Jan van Riebeeck- en Kerkstraat is so geleë dat elke mens wat die dorp binnekom dit aanskou.
“Dit is nie ’n goeie beeld van Wellington as aantrekkingskrag vir ’n toeristebestemming nie,” voeg hy by.
In ’n inskrywing wat die WBV op sy Facebook-blad gedeel het, bedank Stapelberg die verskeie plaaslike rolspelers wat ook hul moue oprol.
“Ons dank die besigheidseienaar en boer Allen Harris wie se span werkers, onder leiding van Gysie Jacobs, besig is met die voorbereiding vir die oorverf van Wellington-poskantoor.
“Gysie en sy span is baie in hul noppies om met die nuwe uitdaging te begin. ’n Skoon, veilige en netjiese dorp lok beleggers,” lui die inskrywing.
Die WBV is baie in hul skik oor die bydraes wat plaaslike sakelui, soos Build It, ook tot die projek lewer.
“Baie dankie vir elkeen se bydrae ten opsigte van hierdie massiewe projek. Ons verwelkom Build It, wat nie twee keer gedink het om te help en alle materiaal teen baie goeie pryse te gee nie.”
Stapelberg het aan Paarl Post bevestig die projek sal sowat R80 000 kos. “Skenkings ter waarde van tussen R30 000 en R50 000 is tot dusver geborg.”
Hy sê die projek word slegs deur skenkings moontlik gemaak, aangesien die SA Poskantoor geen bydrae lewer nie.
“Baie mense het egter gevra hoe hulle kan deel word deur verf of materiaal te koop en te skenk. ’n Rekening is by Build It in Wellington oopgemaak vir enige belangstellendes in die gemeenskap wat sommer enige bedrag of donasie wil gee.
“Die rekening kwalifiseer vir die afslagpryse wat Build It aan die projek bied.”
Die WBV is toeganklik vir enige donasies en skenkings. Vir meer besonderhede kan ’n e-pos na wellingtonbbv1@gmail.com gestuur word.
Stapelberg sluit af met die slagspreuk van die WBV: “Jou dorp, jou toekoms, jou reg. Ons sal self.”
. In die Paarl wag inwoners geduldig vir die poskantoor om sy deure in die middedorp oop te maak. Die opening sou reeds vroeg in Augustus geskied.
“Die nuwe perseel is gereed, maar daar is tans huurgeld uitstaande – die gevolg van die poskantoor se beperkte kontantvloei. Die eienaar van die gebou sal die poskantoor toelaat om in te trek sodra die uitstaande bedrag betaal is,” het Johan Johan Kruger namens SA Poskantoor, gesê.
.
The Wellington Post Office is one of the town’s prized historical buildings which, thanks to the Wellington Ratepayers’ Association, is now getting a fresh coat of paint. Businessmen and people in the farming community have already come forward to donate to the cause. For more information or to make a donation, send an email to wellingtonbbv1@gmail.com





