Die Frank Pietersen-musieksentrum is ’n belangrike hoeksteen in die Paarl. Vaughan Pietersen, jarelange skoolhoof by dié sentrum, tree vandeesmaand af en is onlangs vereer vir sy bydrae tot die opvoeding en bevordering van musiek onder inwoners op die dorp en omliggende gebiede.
Volgens Pietersen het musiek van kleins af ’n groot rol in hul huishouding gespeel met sy pa, Frank, na wie die sentrum vernoem is, wat bankvas agter hom en sy broers gestaan het.
“My pa was ’n vakadviseur in musiek en so is ons in daai omgewing gebore, waar kinders namiddae gekom het om les te neem by my pa en veral Saterdagoggende was daar leerders wat selfs so ver as Malmesbury gereis het om te kom les neem. So het ek en my broers ook met die kinders op die grasperk gespeel terwyl hulle gewag het vir hul les om te begin. Net om in daai omgewing groot te geword het waar daar musiek elke dag aan die gang was, het dit net deel geword van my lewe en selfs opvoeding.
“Destyds, tydens die Apartheidsjare, was daar nie geleenthede vir ons nie en hy het ons elke Saterdag aangery Kaapstad toe om musieklesse in Tamboerskloof te gaan ontvang. My oudste broer het lesse geneem by die Universiteit van Kaapstad, waar ’n professor Saterdae ook daar lesse aangebied het. So, ons was maar altyd net besig met musiek. Dit het ’n geweldige invloed op ons lewe gehad en ’n leefwyse begin word.”
Pietersen meen sy pa se rol in sy lewe het daartoe gelei dat hy en sy sibbe aan musiek blootgestel word.
Pietersen onthou hy het sy musieklesse in graad vyf gestaak.
‘Die here het na my toe gekom’
“Ons moes by die huis musiek oefen en jy moet veral tussen lesse oefen vir die volgende les. Wanneer ons so geoefen het, het my pa altyd uit die badkamer geskree as jy verkeerd speel en kommentaar gelewer. Dit het my bevrees gemaak en ek was eintlik bang om te oefen, want ek het geweet hy gaan nou weer al die verkeerde note uitwys. In graad sewe het ek weer by die destydse musieksentrum begin musieklesse neem. Op daardie tyd was die sentrum nie ’n voltydse inrigting nie, maar ’n naskoolse instansie wat leerders die geleentheid gebied het. Ek het vioollesse geneem. Ek onthou my pa was altyd daar en ondersteunend, soos enige ouer.
“Vandat ek weer met lesse begin het, het ek ná matriek net besef ek moet nou iewers ’n rigting kies. Ek wou graag ’n veearts word, maar ek het nooit wiskunde en natuur- en skeikunde as vakke gehad nie. Dit het my kans daar belemmer en selfs met musiek het ek ’n bietjie van ’n agterstand gehad, want ek het besluit om my lesse te staak. Ek het toe besluit om ’n jaar ná matriek by die huis te bly om ’n oorbruggingsjaar te doen. Ek moet beklemtoon daar was nie destyds oorbruggingskursusse vir tersiêre vlak om universiteit toe te gaan, soos wat ’n mens vandag kry, nie.”
Nadat hy sy matriek klaargemaak het, vertel Pietersen, het sy pa hom gehelp en klavierlesse gegee. Sy jarelange vioolonderwyser, Paul Martiens, het hom ook bygestaan. Dit was als ter voorbereiding vir Pietersen om sy studies verder in musiek op universiteit te neem.
“Ek het vir ’n oudisie by die Universiteit van Kaapstad gegaan en dit geslaag. Daar het ek my musiekstudies begin – in 1979.”
Ná sy studies het Pietersen by die sentrum begin werk. Sy pa het ’n bevordering gekry en moes in Kaapstad werk. As gevolg hiervan kon Frank nie ten volle by die sentrum betrokke wees nie.
“Toe het die sentrum ’n droogte-tydperk gehad, soos in 1988, toe die sentrum glad nie bestaan het nie. Ons het gevoel dit werk nie uit nie, daar is nie belangstelling nie, die gemeenskap ondersteun dit nie. In daai selfde jaar het die Here na my toe gekom en ek het die teken gekry die sentrum moet voortbestaan. Ek het vir my pa voor sy 60ste verjaarsdag op 9 Februarie gesê ek wil die sentrum weer begin. Ek onthou hy het vir my gesê ek moenie mal wees nie en dat ek oorsee moet gaan en verder studeer en my nog beter kwalifiseer. Hy het gevoel as ek dan terugkom en steeds die begeerte het om die sentrum weer aan die gang te kry, dan kan ek voortgaan.”
die verwesenliking van ’n droom
“Dit was die Maandag toe ons die gesprek gehad het en die Donderdag het hy 60 jaar oud geword en die Sondag het hy gesterf. Toe my pa daar op die bed lê, toe sê ek vir myself ek en hy het nog nie eens die saak klaar bespreek nie. Ek is toe in twyfel of ek moet aangaan met die sentrum en of ek oorsee moet gaan.
’n Week ná sy begrafnis bel die Athlone-onderwyskollege se departementshoof my en hy sê hulle wil my ’n pos in die musiekdepartement aanbied. Ek sê toe ek het deur die trauma gegaan van my pa se sterfte en die wroeging oor die sentrum. Ek het gegaan en ’n gesprek met die kollege se rektor gehad. Ná daardie gesprek het ek besluit ek wil die droom om die sentrum weer aan die gang te bring, verwesenlik. Ek het die aanbod toe van die hand gewys.”
agt leerders in die sitkamer
Dit was vir Pietersen belangrik om met jonger kinders te werk om hulle te help ontwikkel in musiek en vir hulle die kans te gee om te besluit in watter rigting hulle verder wil gaan studeer. Hy het toe na die ou personeel van die sentrum gegaan en die ander stigterslede van die sentrum genader en sy droom met hulle gedeel.
“Ek het vir hulle gesê ek soek net daardie R4 000 wat nog in die bankrekening onder die sentrum se naam is sodat ek instrumente kan koop. Een van die beloftes wat ek gemaak het, is ek gaan die volgende jaar ’n orkes op die been bring. Ek het toe die sentrum weer begin, met agt leerders in my sitkamer, en daardie paar leerders het gegroei na ’n groep van 39. Ek het my belofte in 1990 nagekom. Ons het aan eisteddfods deelgeneem.”
Die leerders wat Pietersen opgelei het, het tydens die Roodepoort- internasionale eisteddfod as die wenners weggestap. Dit was ’n trotse oomblik, veral omdat talle ander oorsese leerders ook deelgeneem het. Ná jare se onderhandelinge het die einste oorwinning die onderwysdepartement in 1993 oortuig dat die sentrum as ’n voltydse skool aangeneem moet word.
“Die Here was so goed, want toe sluit die Athlone Kollege in dieselfde jaar en die gebou het leeg gestaan. Die departement het toe nog vyf jaar huurregte op die gebou gehad en hulle plaas ons ná 24 jaar terug in daai gebou waar ons begin het. Dit was vir my altyd daardie rigtingwyser – dat dit nie ek of enigiemand anders is wat besig is nie, maar dat dit God is wat in werking is.”
Pietersen erken toe hy uiteindelik Ebenezer Primêr moes verlaat en by die sentrum as skoolhoof gaan aanmeld, was hy aanvanklik bang. Hy het nie verwag om so te voel nie, maar ’n seuntjie, Henry Davids, vir wie hy destyds les gegee het, het vir hom ’n kaartjie gegee waarop geskryf is “Do not be afraid, God is already there”.
“Dit het my totaal gebreek; hierdie klein seuntjie bring vir my die boodskap dat dit is waar ek moet gaan. Vandag kan ek sê ek tree rustig uit met die wete ek het net gedoen wat die Here wou hê.”
Tydens ’n onlangse konsert is Pietersen deur die Athlone Instituut Trust vir die uitstekende werk wat hy in Drakenstein verrig het, vereer.
Hy sien ook uit na ’n oorsese vakansie.
Hy vier vandeesweek sy 65ste verjaarsdag en tree met ’n geruste hart af. Hy weet dat die sentrum nou in goeie hande is.