Dit was nog altyd ‘n droom van Dirk Petrus Human, beter bekend as DP, om self na sy matrikbal te ry – met die bloedrooi Jeep wat hy en sy pa vir jare saam opgebou het. Dié tiener was verskriklik opgewonde toe dié sportnutsvoertuig betyds vir die spoggeleentheid klaar was.

DP, ‘n matrikulant aan die Hoërskool Labori, het spoggerig met die ryding voor die glansgeleentheid by sy metgesel se huis opgedaag. Tog was daar nog ‘n laaste kinkel in die realiteitskabel wat verhoed het dat DP se droom op die dag ten volle bewaarheid word.

Sy pa, Louis Human, vertel hy het die tweedehandse Jeep nege jaar gelede gekoop met die gedagte om dit weer “mooi te maak”.

“Dit was nog altyd my ideaal om ‘n projek saam met my seun aan te pak. Toe ek die Jeep nege jaar gelede gekoop het, was hy swart, vol modder en baie verniel. Ons seun, DP, was in daardie stadium nog in die laerskool en het altyd groot drome oor die Jeep en die regmakery gehad.

“Hy het van daardie tyd af gesê dat hy eendag met die Jeep na sy matriekafskeid toe gaan ry. Dit was die logiese keuse om saam met hom te werk en te kyk hoe ‘n mens sy drome kan bewaarheid, goeie tye saam deur te bring en ook om onvergeetlike herinneringe te bou.”

Volgens Louis het hulle agt jaar lank aan die projek gewerk omdat hy en DP nie al die tegniese vaardighede gehad het nie. Hulle kon ook nie alles wat op die Jeep gedoen moes word, self doen nie. Louis sê ‘n bonuspunt is die feit dat sy seun in Labori is, wat baie tegnies aangedrewe is.

Een van DP se vakke is meganika en hy kon selfs by sy onderwyser ‘n bietjie raad kry.

“Ons moes [ook] by verskeie kundiges gaan aanklop om te help. Die werkswinkel van die een kundige is in ‘n stadium besteel en baie van die onderdele van die Jeep is tydens die diefstal ook gesteel, onder andere die battery. Later het die Jeep by iemand geland wat ons gehelp het om die veselglaswerk oor te doen. Daar het die tegnikus se woning aan die brand geraak en groot dele van die Jeep het uitgebrand, insluitend die nuwe stel bande wat ons vir die Jeep gekoop en opgesit het,” vertel Louis oor die terug- slae van die pa-en-seun-projek.

“Daarna was die voertuig basies in bokse om weer aan mekaargesit te word. ‘n Weldoener in die Strand het gehelp om alles weer te pas en so het die bouproses weer begin. Ek moet sê die mense van die Paarl was fantasties en het regtig met ‘n passie gehelp sodra hulle die storie gehoor het. Hulle het uit hul pad gegaan om te help, raad te gee of sommer net saam te droom. So het ons met hulp verstellings aan die engin gedoen, die stuurstelsel vervang en ‘n kragstuur aangebring, die wiellaers vervang en ontelbare gesprekke gehad met almal wat wou help.”

DP sê op sy beurt dit was vir hom ‘n lekker ondervinding om aan die projek te werk – saam met sy pa en almal wat gehelp het.

“Dit was net ‘n plesier om so tyd saam met my pa deur te bring. Ek het geleer dat niks net maklik kom nie. Sodra ons dink alles is reg, dan kry ons nog iets wat aandag nodig het.”

Die jongman het ‘n groot liefde vir motors en vertel ook dat die familie aan sy ma se kant net so gaande oor motors is.

“Ek dink dit kom daarvandaan. Ek hou baie van motors, ken hulle en kyk graag F1.”

Louis erken hy is nie ‘n “tegniese mens” nie en die motorbedryf is nie in sy veld nie. Tog was dit vir hom ‘n groot plesier om sy seun met die opbou van die Jeep in aksie te sien.

“Wat lekker was, is om saam met hom YouTube-videos en Chat GPT te raadpleeg of vriende te nader om ‘n agtergrond te kry oor hoe ‘n 4×4-onderstel werk. Dit was ook fantasties om te sien dat ons seun sy tegniese kennis kon inspan om baie keer die leiding in die herstelwerk te neem.

“Ons het reaksies van oral gekry met pa’s wat gesê het dat so ‘n projek ook hulle ideaal sou wees. Baie mense was geïnteresseerd om te hoor hoe dit gebeur het en het gereeld gevra hoe die projek vorder. Ek het die indruk gekry dit het vir party soos ‘n sprokie geklink. Om eerlik te wees, vir ons ook,” verstel Louis.

Alles is goed voorberei vir die matriekafskeid, met selfs ‘n bankie wat spesiaal gemaak is vir DP se metgesel sodat sy maklik in die Jeep kan klim.

“Ek was eers baie opgewonde en trots toe ek by die huis wegtrek, maar soos ek nader aan die meisie se huis gery het, het ek baie op my senuwees geword en was bang iets loop verkeerd. Ek het in my geestesoog al gesien hoe ons by die matriekafskeid aankom met hierdie pragtige rooi Jeep,” vertel DP.

Hy het tot by sy metgesel se huis gery, maar van daar het sy grootste vrees dat iets verkeerd sou loop, waar geword.

“Ek het haar ouers gegroet en ons het na die matriekafskeid toe gery, maar op pad het die enjin uitgeskakel en die Jeep wou net nie verder ry nie. Dit was ‘n groot teleurstelling, maar ek het nie toegelaat dat dit ons aand bederf nie.

“Die meisie se pa het ons na my ouerhuis geneem waar my pa ons na die matriekafskeid toe geneem het. Ons het ‘n heerlike matriekafskeid gehad en ek krap al weer aan die Jeep om uit te vind wat fout is. Ek gaan gewis vir my maats wys dat die voertuig wel bestaan deur my matriekeksamen met hom by die skool te gaan aflê.”

Die 18-jarige sê hy gaan sy studies in 2026 by Soltech voortsit, waar hy hom as meulmaker (millwright) wil kwalifiseer.

You need to be Logged In to leave a comment.