Helpende Hand se Wellington-tak het die voorreg gehad om skooltassies vir die gr.1-leerders van 2024 by Hugenote Laerskool en ook Laerskool Hugo Rust af te gee.
“Opvoeding en geleenthede gaan hand aan hand en daarom is dit vir ons belangrik om jong leerders toe te rus met die nodige gereedskap vir hul akademiese reis,” sê Jalinda de Jager, ondervoorsitter van Helpende Hand Wellington-tak.
De Jager het ook gesê dat “leerders deur middel van die Helpende Hand-tassies almal ’n gelyke kans kry en die nuwe skooljaar met trots kan aanpak”.
Sedert 2007 word hierdie skooltassie-projek van Helpende Hand op ’n landswye skaal aangebied. Deur middel van die verskaffing van ’n skooltassie word leerders van kleins af bemagtig en word hulle in staat gestel om ’n pad van sukses te begin.
Ondersteun gerus hierdie inisiatief en skep ’n geleentheid vir ’n graadeentjie om sy of haar volle potensiaal te bereik deur ’n skooltassie te borg.
Kontak Mariëtte Roos by marietteroos@helpendehand.co.za vir meer inligting oor die projek of om by Helpende Hand betrokke te raak.


