Sjef Mynhardt Joubert se ikoniese vrugtefeeskoek sal hierdie jaar weer die vreugdevolle prentjie van Kersfees inkleur wanneer dit aan menige Kerstafels gesny en gedeel word.
Met ’n vrugtekoek wat meer soos ’n juweelkissie van kersies en neute lyk, is dit sedert 2016 Mynhardt se begeerte om die boodskap van mededeelsaamheid in die Kerstyd te deel. Sy vrugtekoek vorm deel van sy jaarlikse welsynprojek, nou in sy sesde jaar, waar almal na ’n koek enig in sy soort uitsien en weet ’n groot deel van die opbrengs word aan behoeftige organisasies geskenk.
Mynhardt, sy span en die pragtige tradisie wat hulle laat voortleef, het nou ’n tradisie in Suid-Afrikaanse huishoudings geword en vanjaar is daar nog meer rede tot feesviering.
Die 2022-feestyd kan sy arms weer wawyd oopgooi vir vriende en familie om sonder maskers brood te breek. Dis ’n jaareinde wat voorwaar ’n nuwe begin ná die pandemie simboliseer. Geliefdes kan mekaar weer in die oë kyk, die feestafel saam met liefde gelaai. En dan weer, die geliefde feeskoek, laat koning kraai.
Uit die hart van die Vrystaat
Mynhardt se vrugtekoekresep reis al die pad saam met hom van die Vrystaat af waar hy grootgeword het. Nes dit harte regdeur Suid-Afrika warm maak, trek die storie van moederlike liefde jou nog nader.
Mynhardt vertel: “My ma en my ouma het my aangemoedig om kreatief in die kombuis te wees en ek hou vas aan daardie vryheid. ’n Vrugtefeeskoek verteenwoordig familie en wanneer die bakkery jou huis met daardie soet-warm aromas vul, nooi dit die sentiment van Kerstyd in jou kombuis in – die hunkering om tyd saam met geliefdes deur te bring.”
’n Kersverhaal
Vroeër vanjaar het Mynhardt se bakker baie siek geword – die einste staatmaker wat hom help om die vrugtekoeke betyds gereed te kry vir Kersfees. Mynhardt en sy span moes inspring, maar gelukkig het sy regterhand, Jesmine Fransman (alombekend as “Sponsie”), hom gerusgestel dat sy van iemand weet wat as bakker kan instaan.
“En hier stap ’n vrou die kombuis binne en laat waai!” vertel Mynhardt.
“Nicoline Williams se entoesiasme was tasbaar. Sy het boonop ’n mooi blou resepteboek saamgebring waarin sy al haar gunstelingresepte met die hand skryf. En kan jy glo! Daar pryk die einste resep van my vrugtekoek. Hoe wonderlik om die volle sirkel van welwillendheid te sien gebeur!” sê Mynhardt, absoluut verheug.
Nicoline het die resep ontdek toe sy by familie in Port Nolloth, ’n klein dorpie in Namakwaland, gaan kuier het. Sy het deur die tydskrif KUIER geblaai, die storie oor Mynhardt se vrugtefeeskoek raakgelees en dadelik die resep in haar blou boek oorgeskryf. “En nou staan sy hier in my kombuis en bak dieselfde koek. Ek voel so geseënd!”
’n Helpende hand
Die begunstigdes van Mynhardt se 2022 Vrugtefeeskoek-welsynprojek sluit ’n klein niewinsgewende organisasie met die naam Helpende Handjies in.
Dié organisasie word deur Wilma Christoffels in Montagu bestuur waar sy daagliks 30 kindertjies in haar gemeenskap versorg.
Sy maak staat op donasies waaruit hul etes en skryfbehoeftes vir skool gekoop word – wat hulle nie andersins kan bekostig nie.
Die ander organisasie waaraan geld geskenk sal word, is Butterfly House, ’n Paarlse gemeenskapshulpbron wat na gemeenskappe uitreik om positiewe veranderings te help fasiliteer. Meer as 300 kinders is geregistreer om aan hul programme deel te neem. Etes en skryfgoed word verskaf, asook stortfasiliteite en ’n veilige omgewing om in huiswerk te doen of te ontspan. Butterfly House is gestig om die fasiliteite van die Drakenstein Palliatiewe Versorging (DPH) uit te brei.
Groothartige borge
Sjef Mynhardt bak vanjaar weer vir hierdie projek met fantastiese borge wat jaarliks bydrae lewer. Dit sluit die volgende bekende Suid-Afrikaanse handelsmerke in: SASKO, Montagu Dried Fruit & Nuts, Bonnita Butter en KWV Brandy.
Suid-Afrikaners is trots om ’n sjef in hul midde te hê wat onvoorwaardelik sy kombuiswyshede deel en daaraan toegewy bly om die vrugtefeeskoeksirkel groter te maak. En die geheime bestanddeel?
“Ons kook met ’n oormaat liefde en herinner onsself telkemale aan die families vir wie dit vreugde gaan bring en die kinders wat jaarliks uit die projek se opbrengste baat.”
Chef Mynhardt se vrugtefeeskoeke is beskikbaar teen R500 per koek. Plaas jou bestelling betyds vir die feestyd per e-pos by cake@mynhardt.co.za. Volg ook sy Feeskoek-welsynveldtog op Facebook en Instagram en kry nog meer inspirasie vir jou eie feestafel!
* Een Paarl Post-leser kan ‘n Feeskoek wen. Whatsapp die naam van die Paarlse organisasie wat skenkings sal ontvang vanuit die verkoop van Mynhardt se Feeskoeke na 066 484 3728 voor Woensdag 16 November. Die wenner sal bereid moet wees om die koek by Paarl Post se kantore in die Paarl te kom afhaal.


