Alle Wellingtonners weet van die groot standbeeld van Andrew Murray voor die NG kerkgebou aan die bopunt van Kerkstraat. En feitlik alle Wellingtonners weet van die man wat dag ná dag op sy fiets deur die strate van Wellington ry om voorskrifmedisyne by huise op die dorp af te lewer.
Marthinus Marais, die man op die fiets, lewer reeds meer as 40 jaar medisyne op die dorp af. Hy weet dis 40 jaar, want hy was pas 16 jaar oud toe hy lank, lank gelede as bode by Bergrivier Apteek op Wellington aangestel is en hy het pas, op 19 Julie, sy 56ste verjaardag gevier.
Marthinus het in die 40 jaar drie fietse gedaan gery en hy en Bergrivier Apteek het tot dusver drie apteekeienaars oorleef.
Volgens Marthinus is sy werk ’n annerlike werk.
Dis die enigste werk waarvan hy weet wat ’n mens laat voel jy werk, so met die jare, net al lekkerder en lekkerder.
“Ek glo hom,” sê ’n bejaarde dame wat gereeld elke week of twee haar pakkie medisyne by Marthinus afhaal as sy fietsklokkie by haar tuinhekkie lui.
“Sy glimlag het met die loop van die jare net al breër en breër geword.
“Dit kan net gebeur as ’n mens ál gelukkiger en gelukkiger in sy werk raak!”