Net soos die skakels van die voedselketting, so is ons as mens ook maar skakels in die groter ketting van menswens en word voetpaaie deur mense getrap vir watter rede ook al. Soms, of meestal, word daar agter beloftes aangeloop; soms soek jy vryheid en die oortreding van die tiende gebod se laaste klousule: “Jy mag nie begeer nie”. Om gesogte geleenthede by te woon, gaan ons deur verborge deure terwyl ons soek, soek, soek . . . Ons soek ons agterstallige liefde op plekke waar dit vir ’n breukdeel van tyd gevind word, maar jou wees agterlaat. Agterstallige liefde is ’n rekening wat nooit vereffen kan word nie.

Daar is min of geen spore terug na waar jy vandaan kom op hierdie voetpad nie. Spoorsnyers sal vir jou wys; die spore wys vorentoe. Party haastig, ander stadig, ander dra swaar, party het net een spoor, woedende spore lyk anders tot die lewensmoegheid hulle inhaal, party se pyn is duidelik sigbaar in hul wankelende stap, maar almal beur vorentoe en het vergeet dat vorentoe net sinvol en effektief kan wees as die pad terug gesond gemaak is.

’n Greintjie onware hoop wat die spoortrappers vir hulself skep in die skerp kronkelende weg waarop hulle hul bevind is die roekelose selfvertroue waarmee hulle beweeg. Spontane luidrugtige gesprekke word gevoer onder die dekmantel van kultuur, ingesteldheid, valse kameraadskaplike bystand en onderduimse raadgewing wat in ’n ontsyferbare chaos ontaard wat bolangs gesond moet hou wat diep binne weggesit word uit vrees vir kwesbaarheid.

Dit sal beter wees om verantwoordelikheid te neem vir die ware self sodat genesing kan plaasvind; genesing van ’n onreg wat teenoor jou gepleeg is, nou nog gepleeg word en vir altyd gepleeg sal word as ons nie ons gewoontes en denke verander en ons ware self herontdek en dít doen wat vir onsself goed en aanvaarbaar is sonder dat ons verwag dat iemand anders vir ons geluk en geestelike welstand verantwoordelik is nie.

Soos in die natuur vat mense ook terug wat aan hulle behoort. Meestal is dit die onsigbare, dit wat gewoonlik die meeste sielkundige skade aanrig wat teruggeneem word wanneer jy dit die minste verwag of die meeste daarop staatmaak. Maar op jou lewensreis kom ’n mens hierdie mense teë.

Dis gewoonlik nie die verflenterde klere of die absolute verwaarlosing wat die hardste praat nie, maar die geestelike verwaarlosing. Mense wat lyk of hulle sommer sal huil as jy mooi met hulle praat. Hulle is oral om ons, daar is ’n somber atmosfeer rondom hulle en hierdie reeds gekneusde gees word aan flarde geruk deur die spoortrappers wat sonder deernis armswaaiend allerhande woedende woorde rondslinger terwyl hulle eintlik hul eie pyn in die oë staar en daarmee gekonfronteer word. Omdat hulle nie weet wat om met hul pyn te maak nie, is hierdie opsygedruktes en sielsverskeurdes ’n teiken.

Maar gewoonlik is dit die mense wat hulle beweer hulle liefhet wat die seerste kry, die mense naaste aan hulle, die mense met wie hulle die huis deel. Die kroon vol edelgesteentes wat die buitewêreld sien, word snags deur trane gepoets.

Hul eie gevoelens word op die agtergrond geskuif om plek te maak vir spoortrappers wat ongeërg trap op rowe wat nooit kans kry om gesond te word nie.

Dit is nie nodig vir enigiemand om toe te laat dat ander jou kleineer, misbruik, aanrand, verwaarloos of jou laat voel dat jy nie goed genoeg is nie. Jou waarde word nie deur ander bepaal nie, jou waarde is reeds voor jou geboorte bepaal; ’n waarde wat nie geëwenaar kan word nie, ook nie nagemaak kan word nie. Jy hou die sleutel van jou waarde.

Gaan op ’n alleenreis deur jouself. Bepaal jou gewoontes en hoekom jy aangetrokke voel tot sekere mense. Daar lê jou verlossing.

Wanneer jy dit weet, ken jy jou eie seer. Jy leer op jou reis dat jy seergemaak is, dat jy die seer jare saam met jou dra totdat jy op ’n dag nie meer kan nie. Jy leer dat liefde soms nie genoeg is nie. Dat hoe iemand jou laat voel baie meer werd is as waartoe liefde ooit in staat sal wees omdat jy gerespekteer word deur ’n innerlik gesonde persoon. Jy kan begin gesond word wanneer daardie seer in die regte perspektief geplaas word en jy verstaan waar dit vandaan gekom het.

Jou gesondwordproses word deur jou bepaal, hoe lank dit neem om jou seer gesond te maak, maak nie saak nie. Dis die proses ná gesondwording waar die vryheid lê, wat kosbaar is en waar jy bepaal hoe jy behandel behoort te word. Waar jy self die grense vaslê en in stand hou.

You need to be Logged In to leave a comment.