Die Wellingtonse boorling dr. Frances le Roux het sopas haar jongste boek bekend gestel, Son en suurlemoene, ’n merkwaardige blik oor haar reis met borskanker.
Frances het op die plaas Doolhof in Wellington van 1955 tot 1974 gewoon en skryf ook oor dié plaas.
Sy is ’n skrywer, navorser en afgetrede fisioterapeut. Sy het in 2005 haar PhD ontvang vir ’n ondersoek getiteld “Die effek van musiek op die immuunsisteem, emosies en longfunksies gedurende fisioterapie”.
Sy het al verskeie wetenskaplike artikels op internasionale vlak gepubliseer en is ook lid van die redaksie van die Internasionale Musiek-en-Medisynevereniging. Sy het al verskeie artikels in die tydskrif Natural Medicine gepubliseer.
In Son en suurlemoene vertel sy dat sy in ’n lewensfase was waar sy gedink het sy het alles onder beheer. Maar toe word haar lewe omvergegooi met dié nuus: Jy het borskanker.
Dit was ’n drastiese ingreep in haar lewe, toe Frances nog haar eie fisioterapie-praktyk bestuur het, en opeens uit haar vaste roetine en suksesvolle professionele pad geneem en gedwing is om ’n vreemde roete aan te pak; ’n roete waarop sy opnuut geleer het van veerkragtigheid, dapperheid, geloof, dankbaarheid en die waarde van opregte mense.
Maar die aanvaardingspad was nie altyd maklik nie – daar was talle oomblikke waartydens sy gehunker het na haar lewe vóór haar mastektomie, vóór die inbreuk op haar lewe deur chemoterapie en ’n drasties veranderde lewenstyl.
Haar keuse van behandeling moes sy ook soms verdedig, maar dít het sy besef: Sy gaan by haar besluit hou en staatmaak op alle moontlike hulpmiddels, soos ’n gesonde leefstyl, positiwiteit, opbouende vriendskappe, die aanvaarding van hulp en die erkenning dat sy dié pad net in geloof kan stap.
Frances het algaande tot die besef gekom dat haar reis na genesing allermins kort is. Chemoterapie was soos ’n roete na ’n vreemde nuwe land, dikwels een van ongemak, dikwels een van vreugde.
Sy het geleer dat die felheid van dié behandelingsmetode op liggaam en gemoed deur ’n hele aantal vegmeganismes versterk kan word, soos om jou te omring met ’n kring van omgee en deur te glo en te visualiseer dat jy jou regte bestemming sál bereik. Maar jy moet ook ingelig wees en jou verryk met die groot hoeveelheid wetenskaplike navorsing en bewyse wat beskikbaar is.
Tog was een van haar getrouste metgeselle haar fokus op beeldende kuns en musiek – sy het prakties die positiewe invloed van veral musiek op haar genesingspad ervaar.
Die studieveld waarin sy jare lange navorsing gedoen en haar onderskei het, het sy toegepas op die omstandighede waarin sy haar sonder keuse bevind het.
. Een Paarl Post-leser kan ’n eksemplaar van Frances se fassinerende en helende verhaal wen deur die naam van die boek te WhatsApp na 066 484 3728 voor Dinsdag 29 November.
. Besoek www.fhleroux.co.za vir meer inligting.
Ook deur die skrywer:
Naby Verlatensvlakte (1997)
Winterhuis (2001)
Music is healing (2006)
Music and Babies (2014)
Music and Natural Medicine (2019)
Frances se boeke kan bestel word by: adagio.frances@abamail.co.za


