Die sanger en liedjieskrywer André Swiegers maak Saterdag (6 ) Julie musiek by die Bôrdienghuis.
André sing van sy bekende liedjies soos “Eva”, “Blou”, “Twee feilbare mense”, “Jammer om te hoor” en “Turn On The Light”. Ook sy eie gunstelinge, soos “Bakhandmaan”, “Liberty”, “Ex Lover” en “Blommekind”, is op sy speellys.
Daarby sal hy die gehoor ook vermaak met sy mees onlangse werke soos “Vry soos die wind”, “Een tree”en “Vinnig nêrens heen”.
André se optrede word ook geken aan sy vermaaklike stories agter die lirieke van sy musiek.
Kaartjies kos R150 per persoon.
. Die gewilde Suid-Afrikaanse rocker Valiant Swart tree Saterdag 13 Julie saam met Illmar by die Bôrdienghuis op. Valiant is sedert 1990 eintlik volksbesit op die SA-musiektoneel. Sy besondere handelsmerk van sielvolle blues, folk en country-rock, vermeng met inheemse Suid-Afrikaanse invloede soos boeremusiek en kwela, het hom ’n groot en lojale aanhang landwyd besorg.
Hy het letterlik in duisende optredes oor Suid-Afrika heen en in die buiteland gespeel – van kroeë en rockfeeste tot teaters en massiewe gala-geleenthede by Sun City.
In 2010 was hy die eerste ontvanger van die gesogte Oppikoppi Lifetime Achievement-toekenning.
Hy het 17 albums vrygestel – van Die Mystic Boer in 1996 tot Nagrit in 2016 – en verskeie toekennings gewen.
Hy het ook al drie boeke geskryf en uitgegee en is al langer as tien jaar ’n gewilde tydskrifrubriekskrywer.
Hy het ook sy lyf akteur gehou in Veertig dae deur die Delta en Song vir Katryn.
Valiant se solo-optredes word as legendaries beskryf. Met sy akoestiese kitaar en mondharmonika gekombineer is sy klassieke liedjies soms aangrypend, soms hartseer en soms absoluut skreeusnaaks, opgevoer met die storievertelstyl van ’n ware raconteur.
Kaartjies kos R180 per persoon.
Die deure open vir albei vertonings om 17:00 vir pizza- en wynverkope, en die vertonings self begin om 19:00.
. Kontak Jeannine by 061 156 5386 vir besprekings.