Inwoners van die Drakenstein-vallei kan uitsien na ’n fees van jong musikale talent op die Frank Pietersen-musieksentrum se opelugmusiekfees hierdie Saterdag (16 Maart).
Verskeie musieksentrums en skole van oor die Wes-Kaap heen sal ’n boeiende vertoonvenster van diverse musikale genres en ensembles ten toon te stel. Van orkeste tot kore, tromlyne tot marimba-groepe en kleiner ensembles, met instansies soos die Hoër Jongenskool Paarl, die Laerskool Blackheath, die Laerskool De Hoop, Wynland Kamerkoor en die ensembles van onder andere die Frank Pietersen-musieksentrum, beloof om te bekoor.
“Ons is verheug om ’n platform te bied om die ryk musikale diversiteit en talent wat die Wes-Kaap te bied het, ten toon te stel,” sê Vaughan Pietersen, skoolhoof van die Frank Pietersen-musieksentrum.
“Hierdie fees gaan nie net oor die optredes nie; dit gaan ook daaroor om die passie, toewyding en kreatiwiteit van ons jong musikante te vier.”
Die fees sal op ’n hoë noot afgesluit word met An African Rhapsody for Choir and Orchestra,saamgestel deur Eric Gerber, ’n goeie vriend van die musieksentrum en gewese musiekonderwyser en orkesdirigent by die Hoër Meisieskool Paarl.
African Rhapsody is in Oktober vir die eerste keer uitgevoer by die Then We Saw Ourselves-vertoonvenster by die Zeitz MOCAA (Museum of Contemporary Art Africa) by die Kaapse Waterfront, ’n samewerkingsprojek tussen Zeitz MOCAA en die kuns- en musieksentrums van die WKOD.
Kaartjies vir die geleentheid kos R60 vir volwassenes en R30 vir kinders en pensioentrekkers (by die hek). Benewens die musikale optredes kan besoekers smul aan heerlike verversings wat deur kosstalletjies by die fees te koop aangebied sal word. Die ekke open om 15:00, en die eerste vertoning is geskeduleer om om 16:00 te begin.
Of jy ’n gesoute musiekliefhebber is of bloot ’n heerlike geleentheid wil bywoon, is die Frank Pietersen-musieksentrum in Sanddriftstraat, Paarl, Saterdag 16 Maart die plek om te wees.
. Skakel 021 872 2123/4 vir nog inligting.


