Na afloop van die Nasionale Jeugmusiekkompetisie se oudisies in April is Kyrah Adams, ’n gr. 9-leerder aan die Hoërskool Gimnasium Paarl, as een van 27 landwye kandidate gekies. Kyrah speel die Westerse marimba. Dié kompetisie vind van 3-7 Augustus by die Hugo Lambrecht-musieksentrum in Parow plaas. Die kompetisie vind plaas oor vier rondes. Alle kandidate neem deel aan die eerste twee rondes en van daar word leerders gekies om deur te dring na rondes drie en vier. Die Nasionale Jeugmusiekkompetisie word reeds sedert 1984 jaarliks aangebied en die doel van die geleentheid is om talentvolle klassieke musici tussen die ouderdom van 14 en 19 te identifiseer. Dit skep ook ’n platform vir leerders om blootstelling te kry aan die vereistes van ’n musiek-loopbaan in solo- en orkes-optredes.