Die Paarl-Oosstraat-museumroete is pas oopgestel om die uiteenlopende en historiese betekenis van Paarl-Oos ten toon te stel.Foto:


Die Drakenstein-munisipaliteit het onlangs ’n erfenisroete met ’n verskil van stapel gestuur – die Paarl-Oosstraat-museumroete wat 25 betekenisvolle terreine insluit wat die storie van die uiteenlopende en historiese betekenis van Paarl-Oos vertel.

Hierdie roete, wat Paarl-Oos en -Wes via Klein Drakensteinweg en Lady Greystraat verbind, loop deur die bedrywige Jan van Riebeeckweg (Hugenote-verbypad) totdat dit by die Paarl- sentrale sakekern aansluit, waar die Lady Greystraat-brug oor die Bergrivier as simbool van integrasie dien.

“Vandag kom ons bymekaar om ons diverse kulturele erfenis te vier en erkenning te gee aan die geskiedenis wat ons verenig. Paarl-Oos is die tuiste van baie burgers van Drakenstein, en ons erfenis is ’n bron van hoop,” het die raadslid Laurichia van Niekerk, burgemeesterskomitee­lid vir beplanning, ekonomiese ontwikkeling en toerisme by die munisipaliteit, gesê toe sy die hoofrede by dié Erfenismaand-geleentheid gelewer het.

Van die noemenswaardige terreine op hierdie erfenisroete is die Khoi-gedenkterrein, die Essop se Supermark-gebied, “Die Stoepe”, die Zions-kerksaal en Bethany School. Elkeen is met ’n naambord gemerk, wat die roete maklik identifiseerbaar maak.

Cheryl Phillips, bestuurder van ekonomiese ontwikkeling en toerisme by die munisipaliteit, het oor die projek uitgebrei:

“Hierdie projek strook met aanbevelings van die Drakenstein- plaaslike ruimtelike ontwikkelings­raamwerk, wat die noodsaaklikheid beklemtoon om Paarl-Oos en -Wes te verbind deur erkenning te gee aan die erfeniswaarde wat Paarl-Oos inhou.

“Die Paarl-Oosstraat-museum-erfenisroete dui op ’n historiese tydlyn en weef stories saam wat konteks verskaf aan die geïdentifiseerde terreine van belang. Hierdie narratiewe is die onvertelde verhale wat die lewe van gewone individue binne die ekonomiese, sosiale en politieke sfeer van die Paarl gevorm het. Gevolglik het hulle die ontwikkeling van Paarl-Oos en sy omgewing aansienlik beïnvloed,” het Phillips gesê.

“Hierdie verhale handhaaf erfenis en skep betekenisvolle verbande tussen die mense, historiese gebeure en die terreine van betekenis, en bring hulde aan die onbesonge helde wat ’n onuitwisbare stempel op die gemeenskap gelaat het.”


. Drakenstein Municipality recently launched a heritage route with a difference – the Paarl East Street Museum Route including 25 historically meaningful sites that tell the story of the diverse and historical significance of Paarl East.

You need to be Logged In to leave a comment.