Museum herkies bestuur

Die bestuur van die Vriende van die Wellington Museum is op 24 Junie op die jongste jaarvergadering van die organisasie vir ’n derde agtereenvolgende jaar onveranderd herkies.


Die bestuur van die Vriende van die Wellington Museum is op 24 Junie op die jongste jaarvergadering van die organisasie vir ’n derde agtereenvolgende jaar onveranderd herkies.

Benewens die feit dat die bestuur van die Vriende van die Museum gedurende die afgelope jaar merkwaardige sukses behaal het in hul pogings om die sake rakende die museum op ’n gesonde suksespad te plaas, het hulle ook uitgeblink in die wyse waarop hulle die voortou geneem het in die stryd om te verseker dat die Goodnow-saal op die KSUT-kampus gered word.

Die Goodnow-saal, deel van die trotse nalatenskap van statige geboue wat Wellington se ereplek in die geskiedenis van die land se opvoedkundige ontwikkeling onderstreep, is erg beskadig in ’n verwoestende brand wat op 26 Oktober 2016 uitgebreek het.

Die Vriende van die Museum het op hul jongste jaarvergadering onder meer beklemtoon dat hulle toegewy is aan hul pogings om die gemeenskap van Wellington te betrek by hul strewe, planne en mikpunte om allerlei nuwe toekomsmoontlikhede vir die ganse gemeenskap te skep.

Daarvan getuig die besluit om vir Dennis Malan, voorsitter van die Malan Familiebond, as gasspreker na die jaarvergadering te nooi om oor een van die dorp en omgewing se pionier-families te praat met besondere verwysing na die bekende oud-Wellingtonner, Sailor Malan.

Die bestuur, wat nou vir ’n derde termyn verkies is, bestaan uit Christine Siebritz, Thys Odendal, Chris Pienaar, Isadene Pienaar, Herbert Sills, Charl Tomlinson en Gertie Smit.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.