Vanjaar is ’n belangrike jaar in die geskiedenis van Wellington asook die NG kerk met die 200 ste herdenking van die aankoms van die Murray-familie in 1822 in Suid-Afrika.
Andrew Murray is een van die groot herlewingsfigure in die NG kerk. Hy het in 1871 sy bediening in Wellington begin en duisende mense het die Moederkerk volgepak om na sy preke te luister.
Murray het ’n ongelooflike nalatenskap, veral in die onderwys.
Daardie jare toe Murray hom in Wellington gevestig het, het Wellington net drie plaasskole gehad: Groenberg, Blouvlei en Bovlei.
Toe was dit ook die gebruik dat net seuns naskoolse opleiding ontvang het.
Nadat Murray in 1872 van Mary Lyon se Mount Holyoke-meisieskool in Massachusetts VSA gelees het, het die idee van ’n Hugenote Seminarie ontstaan.
Die skool vir meisies is in 1874 in Wellington geopen, en dit het later die model geword vir talle meisieskole, ook vir meisieskole soos La Rochelle in die Paarl.
Wellington se onderwyskollege, Hugenote Kollege en Hugenote Hoërskool is ook deel van Murray se nalatenskap.
Hy was ook ’n gedugte skrywer en ongeveer 250 geskrifte is vandag nog wêreldwyd bekend, veral in Amerika. Die kerk is juis nou besig om ’n klein Andrew Murray-biblioteek by die kerk in te rig. Die biblioteek sal mettertyd al sy werk verteenwoordig.”
Murray het twee eredoktorsgrade ontvang, een van die Universiteit van Aberdeen in 1898, en ’n tweede van die Universiteit van Kaapstad in 1907.
Hy is in 1917 in Wellington oorlede en langs die kerk se hoofingang begrawe. Hy is ook verewig in die standbeeld voor die kerk.
Wellington se Moederkerk is in 1840 gestig met ds. A.F. du Toit as die eerste leraar. Vandag het die kerk ongeveer 3 000 lidmate, en ’n bediening wat skoliere, kollegestudente, die Andrew Murray-kinderhuis en die dorp se ouetehuise en omliggende plase insluit.
. Die lewe van Andrew Murray word op Erfenisdag, Saterdag 24 September, by die Wellington-museum gevier.
Wellington het sinoniem geword met die Murray-familie en daarom gaan Heri-trav, ’n advertensie- en bemarkingsmaatskappy, twee interessante boeke oor sekere lede van dié gesin bekend stel.
’n Oggend wat eer gee aan ryk geskiedenis – met verversings by – is die perfekte manier om ontasbare erfenis op Erfenisdag te vier.
Feesgangers sal ook die voorreg hê om meer oor die Murray-familie deur middel van onder meer uitstallings oor die gesin te leer.
Die publiek sal kan luister na voorlesings uit Murray se boeke soos Briewe aan sy kinders, God se gestuurdes en Hugenote aan die Kaap, asook Sewe penne.
’n Digbundel oor Wellington, met die gedigte van die wenners van die eerste Wellington-poësiekompetisie wat in 2021 gehou is, sal ook by die viering bekend gestel word.
Toegang: R80 en sluit verversings in.


