Stephen Korabie, Drakenstein-munisipaliteit (DM) se uitvoerende burgemeester, het op die onlangse raadsvergadering (op 29 Oktober) bevestig dat die munisipaliteit asook die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) in gesprek getree het met Tertuis Simmers, Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, oor moontlike oplossings om vragmotors se gebruik van die Bainskloofpas te stop.
Melchior Botes, woordvoerder vir Simmers, het bevestig dat ‘n “vergadering gehou is met ‘n formele versoek/voorstel wat ingedien is”.
Volgens Botes word die versoek egter nog “oorweeg” en kan besonderhede oor die voorstel nie in hierdie stadium gedeel word nie. Botes voer egter aan dat die departement van infrastruktuur (DOI) se standpunt oor Bainskloofpas onveranderd bly.
“Totdat die DOI sy hersiening afgehandel en ’n formele reaksie aan beide die KWDM en DM uitgereik het, bly ons standpunt onveranderd – daar is tans geen planne vir addisionele ingenieursingryping nie”.
Volgens Koos le Roux, speaker van die DM, sluit onderwerpe wat op hierdie vergadering bespreek is “die probleme rondom die bewaring, toegang en beveiliging van Bainskloofpas in, asook skakeling met Google Maps om dié roete te verwyder as die kortste roete-opsie vir vragmotors”.
“Die uiteinde van die vergadering was dat die amptenare van die Wes-Kaapse regering, in oorleg met amptenare van die KWDM, aksieplanne in reaksie op die versoeke sal dryf en daarop sal rapporteer. Die DM kan bevestig dat toepaslike aksies reeds in ‘n gevorderde stadium is.”
LEES OOK: Drakenstein-munisipaliteit verander standpunt oor Bainskloofpas-mosie
Le Roux het benadruk dat hoewel die oplossing van die probleme rondom Bainskloofpas nie die mandaat van die DM is nie, die munisipaliteit steeds voortgaan om “interregeringsfeer-skakeling” te gebruik om die probleme te help oplos.
Dié vergadering tussen die twee munisipaliteite en die DOI kom nadat die VF Plus ‘n mosie oor die misbruik van die Bainskloofpas deur vragmotors op ‘n raadsvergadering op 30 September ingedien het wat die DM aanvanklik verwerp het, maar later van plan verander het om wel met die KWDM saam te werk, wat deur die DOI aangestel is om die pas in stand te hou.
Die VF Plus het op die raadsvergadering versoek dat die DM met die KWDM en die Wes-Kaapse provinsiale regering in gesprek tree oor vragmotors se voortdurende misbruik van die Bainskloofpas.
Jandré Bakker, die direkteur van operasionele ondersteuning by die DOI, het by ‘n vorige geleentheid aan Paarl Post gesê dat Bainskloofpas ‘n provinsiale pad is, met die Wes-Kaapse DOI wat dus die padowerheid vir instandhouding is, maar dat die DOI die KWDM afgevaardig het om hierdie funksie te verrig, wat slegs insluit “roetine- en kleiner instandhoudingswerk” namens die DOI.
Die DOI het ook in sy vorige kommentaar gesê polisiëring van die pas is die KWDM se mandaat, terwyl die KWDM in sy vorige kommentaar gesê het die mandaat is dié van die departement van mobiliteit.
Stephan Landsberg, VF Plus-raadslid in Wellington, het in reaksie in ‘n destydse verklaring gesê dat daar tussen 2023 en 2025 al 57 voorvalle in die pas aangemeld is wat padskade, erosie en lang verkeersopeenhopings veroorsaak het.





