Bekommernis heers onder inwoners oor Lady Greystraat, wat eens die hartjie van die Paarlse sakekern was.
Oor die jare heen het al meer groot maatskappye wat hier geleë was, een vir een hul deure gesluit.
Die jongste is ’n bekende franchise wat binnekort sy jare lange tuiste in Lady Greystraat gaan groet. Hoewel die skuif bevestig is, wil die maatskappy dit om verskeie redes nog nie aan die publiek bekendmaak nie, wat onder meer insluit dat dit sake sal belemmer en kliënte sal verwar.
’n Inwoner, Sandra du Toit, het verlede week in ’n brief ook openlik haar kommer oor die ondergang van Lady Greystraat gedeel.
“Dit is met skok dat ek hoor dat nog ’n bekende onderneming in die hartjie van Paarl se Lady Grey sy deure sluit, ná dekades van handel hier. Dit maak my so hartseer om te sien hoe erg die Paarl se eens florerende sentrale sakekern gesterf het – nie ’n stille dood nie, maar ’n baie harde een, en reg onder die neus van ons sogenaamde stadsvaders.”
Du Toit is van mening dat toenemende misdadige aktiwiteite en onwettige ondernemings bydra tot die verval van die “dorp”, soos wat Lady Greystraat platweg bekendstaan.
Paarl Post het uitgereik na die Drakenstein-munisipaliteit oor die stand van sake in en om Lady Greystraat.
Seraj Johaar, Drakenstein se uitvoerende direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste, het hierop geantwoord.
“Die munisipaliteit werk saam met eiendomseienaars om die Paarl se sakekern te herstel. Ons werk in ’n vryemark-ekonomie en kan nie aan verhuurders voorskryf wie hulle as huurders moet kies nie. Verhuurders het die outonomie om hul huurders te kies op grond van verskeie faktore, insluitend hul persoonlike en sakevoorkeure. Daar is geen spesifieke plaaslike regeringsverordeninge wat beperkings reguleer op buitelandse huurders wat wettige formele besighede in Lady Greystraat bedryf nie. Die munisipaliteit het wel ’n informele handelsbestuursbeleid en informele handelsverordening wat parameters verskaf ten opsigte van die uitreiking van informele handelspermitte aan gedokumenteerde buitelanders.
“Die Wet op Besighede, No.71 van 1991, verskaf parameters ten opsigte van lisensievoorwaardes vir spesifieke tipe formele besighede en nie ten opsigte van die operateurs van die besigheid nie.
“Die munisipaliteit het suksesvol aansoek gedoen om ’n toekenning om spesialis-verkeers-, siviele en ander tegniese studies te doen, wat die grondslag sal lê vir die verjonging van die Lady Grey-gebied. Daarbenewens is die wetlike raamwerk vir besigheid om verbeteringsareas te vestig, ook in plek gestel.”