Die rugbyseisoen het Saterdag afgeskop en die Drakenstein-munisipaliteit het weer eens gewys hy gee eenvoudig nie om vir die Paarlse klubs en hul ondersteuners nie.

Die klein aantal sitplekke is steeds onvoldoende, stukkend en gevaarlik. Die toiletgeriewe naby die velde was buite werking en mense moes ver stap om die toilette by die ingang van die atletiekstadion te gebruik.

Daar was geen water in die kleedkamers onder die krieketklubhuis nie omdat ’n pyp die oggend gebars het. Twaalf spanne moes dus sonder water klaarkom en daar was ook nie spoelgeriewe in hul toilette nie. Dis onhigiënies en ’n gesondheidsgevaar – ook vir die arme werkers wat agterna daar moes opruim.

Hoekom kon die munisipaliteit nie ’n bystandspan stuur om die pyp te herstel nie? Dit gaan die verstand te bowe.

Daar was darem een ligpunt: die velde was uitstekend voorberei en die werkers verdien ’n pluimpie.

By Boy Louw geld dieselfde wanhopige situasie met sitplekke en toilette en die klubhuis is al jare lank vervalle, maar die munisipaliteit steur hom eenvoudig nie aan klagtes nie.

’n Mens kan net hoop dat die munisipaliteit begroot het vir die verbetering van die sitplekke en toilette by beide Boy Louw en die Dal, want om die toeskouers soos diere te behandel, is onaanvaarbaar.


Rugbyliefhebber,

Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.