Die sowat 40 gesinne (meestal plaasarbeiders) wat nege jaar gelede deur die Drakenstein-munisipaliteit (DM) uit die omstrede “Blou Huis” in Suider-Paarl uitgesit en tydelik op die perseel van die New Orleans-woonwapark gehuisves is, word nou deur die Suid-Afrikaanse Menseregtekomissie (SAMRK) in hul hooggeregshofsaak teen die DM bygestaan.
Die gesinne, wat ‘n huis in Suider-Paarl onwettig beset het, is in 2016 ná ‘n jare lange hofgeding deur ‘n hofbevel uitgesit en tydelik in die woonwapark, bekend as Orleanspark, gehuisves.
Die huis, wat in munisipale besit was, is aan ‘n private entiteit verkoop, wat tot die uitsetting gelei het.
Hierdie inligting kon egter nie bevestig word nie, aan- gesien die DM geen terugvoer op Paarl Post se navraag gegee het nie.

Nadat die gesinne in Augustus 2016 by Orleanspark hervestig is, is die “Blou Huis” dadedlik gesloop.
Dié reëling sou egter slegs tydelik wees tot wanneer die DM, wat deur die hof beveel is om noodbehuising aan die inwoners te verskaf, se noodbehuising in Schoongezicht naby Fairyland (Paarl-Oos) gereed was sodat die intrekkers daar kon gaan woon.
Sommige het egter die noodbehuisingsopsie, wat in 2021 voltooi is, van die hand gewys en geweier om uit hul tente in Orleanspark te trek – dit volgens Seraj Johaar, die DM se direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste.
Volgens hom woon 15 gesinne steeds by New Orleanspark en hulle “weier” om na die Schoongezicht-noodbehuisingsperseel te verskuif.
Volgens vorige kommunikasie met die DM het die hoof van elke huishouding destyds ‘n ooreenkoms met die munisipaliteit onderteken dat hul verblyf in Orleanspark tydelik is – tot die voltooiing van Schoongezicht.
“Die Schoongezicht-perseel was in September 2021 reeds vir bewoning gereed en die Drakenstein-munisipaliteit het ‘n brief aan elke Blou Huis-huishouding uitgereik waarin hulle oor hul voorgestelde verhuisingsdatum (22 September 2021) ingelig is en hulle genooi is om die vereiste dokumente te kom voltooi.
Hul skuif na die geïdentifiseerde noodbehuisingsperseel sou in pas wees met die hofbevel van 2016 en daaropvolgende ooreenkomste,” het Johaar gesê.
Die munisipaliteit bied aan elke huishouding by die Schoongezicht-perseel ‘n struktuur van 6 m by 4 m op ‘n ten volle gedienste erf, wat water- en ablusiegeriewe, elektrisiteit, teerpaaie, vullishouers en straatligte insluit.
Die Schoongezicht-perseel is in laat 2023 ontwikkel om 300 gesinne, wat by plase in die omgewing afgesit is, te huisves.
Die saak word weer op 5 Augustus 2025 in die Kaapse hooggeregshof hervat.
• Die Paarl Post het by die SAMRK navraag gedoen oor sy betrokkenheid by die saak, maar geen antwoord is ontvang nie.
You must be logged in to post a comment.