Die kleinhandelmotorbedryf dra die swaarste onder die voortdurende haglike ekonomiese situasie, met handelaars en kleinhandelwinkels wat aankondig dat hulle moet herstruktureer, wat tot afleggings kan lei om volhoubare winsgewendheid en groei te verseker.
Die Motorbedryf-personeelvereniging (MISA) is kennis gegee van die beoogde sluiting van elf kleinhandelwinkels van ’n internasionale motorband-fabrikant. Dié fabrikant meen dit is nie meer lewensvatbaar om sy deure in Suid-Afrika oop te hou nie – weens die koste om sake te doen en die krimpende ekonomie wat sy tol in die motorbandbedryf geëis het.
Martlé Keyter, MISA se uitvoerende hoof van bedryfsake, sê dié kennisgewing volg nadat 53 MISA-lede verlede week weens die sluiting van drie handelaarskappe in Gauteng afgelê is.
“ ’n Derde groot handelaarsgroep het ook by elf handelaarskappe landwyd kennis van herstrukturering gegee. Dit is nog onseker hoeveel werknemers geraak gaan word,” sê Keyter.
Volgens hom kan die bedryf eenvoudig nie met die daaglikse beurtkrag, stygende brandstofpryse en ’n rentekoers van 8,25% – die hoogste in 14 jaar – oorleef nie. Verkope van nuwe voertuie het in September weer gedaal met 46 021 voertuie wat verkoop is – ’n daling van 4,1% vergeleke met 47 984 in September 2022.
“Die impak is nie net beperk tot voertuigverkope nie, maar sluit die res van die waardeketting in die bedryf in. Ekonome beskryf die situasie as die perfekte storm. Huishoudings, sakeondernemings en nywerhede sukkel onder groot druk. Kopers kwalifiseer weens negatiewe kredietrekords nie vir finansiering nie,” sê Keyter.
’n Onlangse opname het aangedui dat 30% van middelklasverbruikers die afgelope jaar ’n motor gekoop het. Altesaam 82% van dié kopers sê brandstofverbruik is die grootse oorweging wanneer hulle ’n motor koop.
Sedert 4 Oktober moes motoriste by ’n hoër brandstofprysstyging as verwag aanpas. Petrol het met tussen R1,08 (vir 93-loodvry) en R1,14 (95-loodvry) per liter gestyg en dieselpryse tussen R1,93 (lae-swael 50 dpm) en R1,96 (500 dpm).
“Die hoë lewenskoste en die dalende netto-salaris het ’n ernstige negatiewe impak op geestesgesondheid, veral in ’n manlik oorheersde bedryf, wat prestasiegedrewe is,” sê Keyter.
’n Paar mense in die kleinhandelmotorbedryf het die afgelope maande hul eie lewe geneem, wat onder MISA se aandag gekom het.
Keyter sê geestesgesondheid in die algemeen – spesifiek selfdood – bly grootliks buite die openbare oog. As gevolg van onderverslaggewing, stigma en beperkte data-insameling is daar geen akkurate statistieke nie.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) skat ’n 90%-toename in die wêreldwye selfdoodsyfer in 2023. Suid-Afrika se selfdoodsyfer is die derde hoogste in Afrika.
Volgens die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (Sadag) word gemiddeld 23 selfdoodgevalle en 230 ernstige pogings per dag aangeteken.
“Of jy moeilikheid by die werk het, of finansiële nood het of nie kan klaarkom met oorweldigende emosies nie –met MISA is hulp net ’n telefoonoproep weg. Dié vereniging gebruik die netwerke wat ons vroueforum en jongwerkersforum oor die jare opgebou het om lede te verbind met organisasies sonder winsbejag wat hulle kan help,” sê Keyter.
Hy sê moet nooit ’n opsie wees nie.