Dawid Mostert by ’n onlangse reünie van die Hoër Jongenskool Paarl. Foto: Paarl Boys’ High Old Boys Union/ Facebook


’n Boorling van die Paarl, Dawid Mostert (87), wat oor Suid-Afrika heen bekend was vir sy werk in die Suid-Afrikaanse ingenieursbedryf, is op 13 Mei op 87 jaar in sy huis in Hermanus oorlede.

Slegs vier dae ná sy dood is sy vrou, Yvonne, ook oorlede.

Mostert was ’n afgetrede ingenieur wat baanbrekerswerk in sy veld vermag het, onder meer om die uitvoerende hoof van die grootste ingenieursgroep in die land te wees, die Dorbyl-ingenieursfirma.

Volgens Dawid se seun, Peet Mostert, was sy pa in dié pos van 1988 tot 1994 met meer as 30 000 mense wat vir die firma gewerk het.

Dawid het ook in verskeie direksies gedien, onder meer die Rembrandt-groep, Seifsa, die Stellenbosch-ingenieursraad, Eskom se elektrisiteitsraad, die Metkor Group en die Winhold Group, het Netwerk24 berig.

Volgens Peet was dit “swaar vir sy pa om te sien daar het niks oorgebly van Dorbyl nie”, asook hoe Eskom, “wat vroeër jare een van die top- elektrisiteitsprodusente was”, nou onder wanbestuur swig.

Hy was ook sedert 2007 met sy aftrede in Hermanus die erepresident van die Suid-Afrikaanse Raad van Meganiese Ingenieurs.

Dawid Mostert tydens sy jonger dae. Foto: Argief

Boonop was hy in ’n stadium die president van Seifsa, die werkgewersorganisasie vir die metaal- en ingenieursbedryf wat verantwoordelik is vir beleid, prysvasstelling en loononderhandelings, volgenserk Netwerk24.

Mostert was ook aan die stuur van grootskaalse projekte soos Mossgas, kragstasies en internasionale navorsing oor kernkragaanlegte, luidens die berig.

Hy het in 1958 ’n BSc-graad in meganiese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch behaal, en het ook ’n MBA-graad van die Noordwes-Universiteit gehad.

Verder het Dawid ook deelgeneem aan ’n gevorderde bestuursprogram (AMP) aan die Harvard-Universiteit.

Nóg een van sy vele prestasies sluit in die ontwerp van ’n myn-hysmeganisme “om te voldoen aan die vereistes van Suid-Afrika se diepvlakmyne” wat steeds vandag vervaardig word, luidens die Netwerk24-artikel.

Volgens Peet was sy pa die laatlam en het hy twee sibbe gehad.

Hulle het op die plaas Weltevrede in Voor-Paardeberg buite die Paarl grootgeword, waar hul pa ook geboer het.

Dié plaas word steeds deur die Mosterts besit, waar die derde generasie tans van die land se topwyne produseer.

Dawid het in 1953 aan die Hoër Jongenskool Paarl gematrikuleer – ’n skool waarop hy “baie trots” was, volgens Peet.

“n [media-] onderhoude het hulle [die media] altyd gevra wat my pa se grootste prestasie was, waarop hy áltyd geantwoord het ‘winning the hand of the girl that is now my wife’.
Peet Mostert

“In [media-] onderhoude het hulle [die media] altyd gevra wat my pa se grootste prestasie was, waarop hy áltyd geantwoord het winning the hand of the girl that is now my wife’.

Volgens Peet was sy pa baie hardwerkend, nederig, en gedissiplineerd, en het hy die sukses wat hy behaal het nooit aan geluk toegeskryf nie.

“Hy het altyd gesê ‘there is no such thing as luck — luck is when opportunity meets preparedness’.”

Dawid word saam met Yvonne begrawe.

Die egpaar was vir 63 jaar getroud.

Die diens vind môre (24 Mei) om 11:00 in die NG kerk in Hermanus plaas.

Die Paarl Boys’ High Old Boys Union Facebook-groep het ook hul medelye met die Mostert-gesin uitgespreek.

You need to be Logged In to leave a comment.