Die artikel in Paarl Postvan8 Desember, “Dromkrappers nou bemagtig”, het gelei tot ’n VF Plus- mosie van dringendheid op die raadsagenda vir Vrydag 9 Desember om inligting wat doelbewus weerhou of verskans is in belang van die belastingbetalers te bekom.

In reaksie op die VF Plus het die burgemeester en sy juigkommando, gesteun deur die ANC, CDM, PA en Good, beskuldigings rondgeslinger van “Skaam julle”, “apartheids­aanhangers”, “Val de Vie-inwoners wat nie armoede verstaan nie” en ander skeltaal om hul verleentheid te verberg.

’n Kat in die duiwehok se moses.

Ná byna 30 jaar post-apartheid onder ANC nasionaal, DA provinsiaal en plaaslik is werkloosheid hemelhoog en armoede aan die orde met wanordelike verstedeliking en plakkerkampe in haglike toestande die armste van die armes se lot.

Die VF Plus-vrae staan: Wanneer het enige portefeuljekomitee, burgemees­terskomitee of raadsvergadering of openbare­deelnameproses die skielike Trolley Waste Picker-loodsprojek of sogenaamde “Wastentrepreneurs” onder oë gehad, bespreek of goedgekeur?

Die burgemeester se verweer: Daar was ’n openbaredeelnameproses deur die wykskomitee in Wyk 17 wat ontken word deur ’n lid van die komitee.

Die burgemeester se dubbelsinnige uitsprake maak nie sin nie: Die VF Plus is gekonfronteer met “Wil hulle hê die mense moet in die tronk gestop word?” Maar hyself wil na die DA- beheerde DM nou sekeres uitgesoek hê en met die nuwe titels die res voor die nuwe munisipale hof daag?

Die vraag: Waarom moet elke straat nou ’n vullissorteringsdepot word?

Waarom nie, soos die reël bepaal, dat elke huis die herwinbare plastiek, glas en papier reeds in aparte sakke plaas en dan die res aanry na ’n sentrale punt waar die mense dan na hartelus verder soek vir wat ook al, insluitend oorskiet kos.

Let wel: met geen behoorlike plan op die tafel nie, lyk dit na ’n DA – en geesgenote in ander partye – standpunt dat as jy ’n straatslaper is, moet jy in die vullisdromme gaan krap vir kos! Hierdie hoogs kontroversiële situasie verg innoverende en nie sintetiese oplossings nie.

Die VF Plus sal sy plan op die tafel sit met ’n mosie in Januarie!


Rdl. Andre Fourie, VF Plus,

Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.