Mosaic reik ook uit na Suid-Afrikaanse wesies

Mosaic is ’n internasionale gemeenskapsprojek wat veral op die ontwikkeling van en hulpverlening aan weeskinders fokus.


Mosaic is ’n internasionale gemeenskapsprojek wat veral op die ontwikkeling van en hulpverlening aan weeskinders fokus.

Die organisasie het takke wêreldwyd, ook hier in Suid-Afrika, en een van die plaaslike organiseerders, Nielen Bekker, werk op die oomblik saam met ’n aantal buitelandse helpers om die lot van weeskinders in die Drakenstein te verbeter.

Volgens Bekker besef Mosaic reeds ’n geruime tyd dat die inwoners van die groot weeshuise in Suid-Afrikaanse dorpe en stede nie naastenby verteenwoordigend van die land se bevolkingsamestelling is nie.

“Daar is eintlik ’n baie positiewe rede waarom dit so is. In die minderbevoorregte gemeenskappe word kinders wat albei ouers verloor, dadelik onder familielede uitgeplaas en word hulle deel van hierdie nuwe families,” sê Bekker.

Hierdie reëling het volgens Bekker egter ook ’n negatiewe kant. Baie van die families by wie die wesies uitgeplaas word, is arm en sukkel om elke dag brood op die tafel te sit. Die nuwe aankomelinge vererger dikwels dié haglike situasie.

Mosaic is tans besig om op groot skaal die probleem in die omgewing van Wellington te pak.

’n Groep helpers, bestaande uit buitelandse lede van Mosaic, het spesiaal uit Duitsland na Wellington gereis om te help om ’n skool en ’n aantal drievertrekhuise op ’n stuk grond in Newton, Wellington te bou.

Die groep van 26 Duitse helpers bestaan uit ’n paar gesinne wat saam met hul agt kinders die bouprojek in Newton kom aanpak het.

Volgens Mosaic spartel talle van die families wat die weeskinders van hul familielede inneem, nie net om genoeg voedsel vir die ­groter familie bymekaar te kry nie, maar ook om plek in die piepklein huisies, waarin hulle woon, vir almal in te ruim.

Met die projek in Newton beoog Mosaic om ’n groot aantal drievertrekwonings te bou wat aan hierdie gesinne beskikbaar gestel kan word.

Die wat reg langs die nuwe kleuterskool gebou word, sal beskik oor ’n ruim leefvertrek en kombuis, ’n ordentlike badkamer en drie aparte slaapkamers – een vir die ouers, een vir die seuns en een vir die dogters.

Die aanneemouers sal ook uiteindelik die huise wat hulle betrek, op hul naam kan laat plaas. Al wat dit hulle sal kos is die oordragkoste wat hulle self moet betaal.

Sedert die projek in Newton begin het, het dit soveel belangstelling gewek dat ’n veel groter stuk grond in die onmiddellike omgewing sedertdien aan Mosaic beskikbaar gestel is vir ’n nuwe, veel groter en soortgelyke projek.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.