Onsmaaklike tonele soos op die foto begroet die personeel van die Wellington-museum elke oggend wanneer hulle opdaag om die deure oop te sluit.

Gewoonlik lê die mense nog daar, steeds vas aan die slaap, sê die personeel van die museum.

Maandagoggend het hulle alles net so daar gelaat en soms is hulle nog aggressief ook wanneer hulle wakker gemaak en gevra word om op te ruim.

“ ’n Mens kan hulle nog vergewe as hulle die perseel netjies laat wanneer hulle opstaan,” sê Christine Siebrits van die museum. “Maar nee, hulle skryf vulgêre goed op die sementtafels en bankies, laat hul gemors – en dit sluit ontlasting in – net daar!”

Die munisipaliteit is geruime tyd gelede al genader om die perseel te beveilig, maar volgens Christine is daar tot nou nog nie juis veel daaraan gedoen nie. “Opmetings is wel gedoen, maar die museum en die personeel bly in gevaar,” sê Christine.

Die inhoud van die museum is onvervangbaar.

“Dit sluit die nalatenskap van ons Wellingtonse geskiedenis in – van die Khoisan, die vroeë sendelinge van die ou Sendinginstituut en dr. Andrew Murray tot die hedendaagse,” sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.