Jerome Amerika (23) is Dinsdagoggend in die Kaapse hooggeregshof vyf lewenslange vonnise opgelê asook ses jaar vir ontvoering.
Amerika is in Februarie in hegtenis geneem nadat die
liggaam van Sharmonique Claassen (10), ofte wel Shama, versteek onder ’n bed in haar oom, Vernon Lewies, se huis in Irisstraat, Groenheuwel gevind
is. Sharmonique het saam met haar gesin in ‘n opslaanhuis op Lewies se erf gewoon.
Amerika, wat bekend is aan die familie, was in ’n verhouding met
Shama se suster by wie hy ook ’n driejarige dogtertjie het.
Hy is vroeër op al sewe aanklagte teen hom – twee vir ontvoering;
vier vir verkragting en een vir moord skuldig bevind.
Sharmonique is laas lewend gesien by haar woning op die oggend van 27 Februarie. Sy het die middag spoorloos verdwyn waarna ’n reuse-soektog na haar van stapel gestuur is.
Amerika het haar liggaam op Maandag 29 Februarie in Lewies se huis versteek.
Sy is onder ‘n bed gekry nadat ‘n familielid ‘n vreemde reuk in die huis gekry het.
Sy is verwurg en verkrag voordat haar liggaam in ’n rooi gestreepte
kombers en swart sak met draad toegedraai, versteek is. ’n Plastieksak was ook
oor haar kop getrek en die rotte het al aan haar hande en tone begin
knaag.
Tydens die lykskouing op 1 Maart, is daar bevind dat Shama ’n
besering aan die kop, wat vermoedelik deur talle houe met ’n stomp voorwerp
veroorsaak is, ’n steekwond tot in die borskas, asook ernstige beserings aan
haar geslagsdele opgedoen het.