Inwoners van die vallei is sewe weke gelede geskok toe die vermiste Tamia Botha op die perseel van ’n skool in Paarl-Oos dood aangetref is, en steeds is niemand nog in verband met haar moord in hegtenis geneem nie.
Die vierjarige kleuter van Daphestraat in Paarl-Oos is op 25 September laas lewend gesien toe sy voor haar woning gespeel het.
Haar lykie is die volgende dag met sigbare wurgmerke aan die nek gevind waar haar moordenaar, wat nog op vrye voet is, haar lewelose liggaam tussen lang gras gestort het.
Ian Cameron van die nie-regeringsorganisasie Action Society is kort ná die meisietjie se dood deur haar familie gevra om as woordvoerder vir hulle te dien. Cameron het voorheen aan Paarl Post genoem dat die ondersoek na die moord op Tamia nog aan die gang is en dat die saak tans in ’n sensitiewe stadium is.
Action Society het ná geen nuwe verwikkelinge in die moordsaak noodgedwonge gevra dat die Wes-Kaapse polisiekommissaris, lt.genl. Sindile Christopher Mfazi tussenbeide moet tree.
Kaylynn Palm, ’n koördineerder by Action Society, het gesê: “Ons het die polisie gerespekteer om ’n behoorlike proses te volg, maar daar is soveel aanduidings dat die polisie die voete sleep dat ons nie kan stilbly nie – veral nie ten koste van haar ouers en die nagedagtenis van Mia nie.”
Palm voeg verder by: “As die vertraging met DNS te doen het, wil ons weet of die DNS-agterstand enige rol speel om Mia geregtigheid te ontneem,” het Palm gesê.
“As DNS op haar liggaam gevind is, kan dit natuurlik gebruik word om ’n verdagte te identifiseer. Maar as daar ’n vertraging in die verwerking daarvan is, kan dit die hele saak vertraag. Gevolglik kan die moordenaar vry rondloop en selfs ’n ander kleuter aanval. Dit is onaanvaarbaar.”
- Seven weeks ago, the body of the missing Tamia Botha was found on the premises of Nederburg Primary, but still no-one has been arrested for her murder.


