’n Wellingtonse skoonheid, Mischke Joshua (32), is vanjaar as ’n Mev. Suid-Afrika- Top 100-semi-finalis aangewys uit ’n rekordaantal inskrywings wat deur die organisasie ontvang is.
Mischke is die dogter van die bekende Wellingtonse egpaar dr. Michael en Sonia Le Cordeur. Michael is hoof van die departement kurrikulumstudie in die fakulteit opvoedkunde van die Universiteit Stellenbosch en Sonia is Afrikaans-onderwyser aan die Hoërskool Bergrivier.
Mischke het in 2003 aan Hugenote Hoërskool gematrikuleer en voor dit was sy van gr.4 tot gr. 7 in Hugenote Laerskool.
Ná skool het Mischke aan die Universiteit Stellenbosch vir die graad BCom (bemarkingsbestuur) gestudeer. Sy het die graad deur Unisa voltooi en in haar laaste studiejaar as bemarkingsassistent by die Afrikaanse Taalmuseum en
-monument gewerk. Daarna voltooi sy ook haar honneursgraad in bemarkingsbestuur, ook deur Unisa.
Boonop is sy geen vreemdeling in die skoonheidswêreld nie. In haar universiteitsdae in Stellenbosch was sy ’n Mej. Matieland-finalis.
Sy kom uit ’n bekende familie wat ’n groot invloed op haar gehad het.
“Om uit ’n merkwaardige familie te kom, het sy voor- en nadele en as kind soms meer nadele. My familie en sy suksesse was nog altyd ’n inspirasie en dryfkrag vir my. Vandaar die akademiese fokus en dissipline. Maar my familie het my ook geleer dat nie almal altyd aan jou kant gaan wees nie. Soms sal jy moet sterk staan vir waaraan jy glo.”
Mischke is verlede jaar getroud met die Durbaniet Jerome Joshua, ’n finansiële bemarker by FNB.
Hulle het in die Kaap ontmoet terwyl albei daar gewerk het.
Die egpaar woon tans in Rustenburg en beplan nog ’n kroos, maar vir eers geniet hulle dit om soveel as moontlik te reis.
En as Mischke ontspan, lees en skryf sy graag, veral haar blog. Sy sê sy is ook mal oor gesondheid, skoonheid en fotografie.
Hoe het sy by Mev. SA betrokke geraak? “Ek het ’n hele ruk gelede gehoor van die kompetisie en ek dink ná ons troue was dinge seker te rustig vir my, dus besluit ek toe om in te skryf. Ek is ook geïnspireer deur die idee dat jy as getroude vrou steeds soveel het om te gee. Jy kan meer as net iemand se vrou wees as jy wil.
“My grootste doelwit met my deelname aan die kompetisie is dat ek vroue, jonk en oud, wil bemagtig, veral oor bullying. As self ’n slagoffer van bullying (deur ander meisies) wil ek graag die jong vroue in my tuisdorp, maar ook in die res van die land, bemagtig sodat hulle nooit deur middel van bullying ’n ander vrou te na sal kom nie.
Waar sien sy haarself ná die Mev. SA-stryd? “Ek wil graag ’n life coach word sodat ek met jong meisies en vroue kan werk en werksessies aanbied om daardie sosiaal-ekonomiese kwessies wat my tuisdorp raak, aan te pak.”