Monicastraat in Smartie Town, Paarl-Oos is al hoe meer ’n misdaadtoneel.


Om te sê dat inwoners van Monicastraat in Smartie Town in vrees leef, is om dit ligtelik te stel – veral nadat die soveelste mens die afgelope naweek in die straat vermoor is.

Die aantal mense wat net die afgelope jaar in dié straat vermoor is, is onbekend en selfs die inwoners kan nie byhou by die presiese syfer nie.

’n Man van vroeg in die dertig is Saterdag (20 April) meer as een keer geskiet. Kapt. Basil Seekoei, ’n woordvoerder vir die Paarl-Oos polisie, sê die polisie is omstreeks 06:00 deur gemeenskapslede ingelig van die voorval.

“Met die polisie se aankoms op die toneel is die oorledene met skietwonde aangetref. Die verdagte moet nog in hegtenis geneem word.”

Seekoei het niks verder verklap oor of die polisie weet wie die oorledene geskiet het en hoekom nie.

“Die naam van die oorledene sal bekend gemaak word nadat hy formeel uitgeken is. Die rede vir die skietery vorm deel van die ondersoek.”

Enigeen met inligting kan 021 877 5900 of tolvry 08600 10111 skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.