Dit gons behoorlik van positiwiteit ná Paarl-Noord-buurtwag se vergadering verlede Woensdagaand met Ian Cameron van Action Society.
“Dit was ’n groot sukses, met tussen 70 en 80 mense wat opgedaag het. Dit is vir seker die suksesvolste buurtwagvergadering die afgelope twee jaar,” vertel die buurtwagvoorsitter, Jaco Prins.
Prins sê Cameron het ’n breë oorsig oor die situasie in die land en ons provinsie met betrekking tot misdaad en die polisie gegee.
“Hy het ook gepraat oor die belangrikheid van ’n gemeenskap wat betrokke is by plaaslike buurtwagte en hoe om op eenvoudige wyses volhoubare sukses as buurtwag te behaal.”
Cameron se terugvoer is ewe optimisties: “Dit was ’n baie positiewe vergadering met klomp buurtwagte van verskeie gebiede, selfs Paarl-Oos, wat dit bygewoon het.”
Hy sê dit was die ideale netwerkgeleentheid waarby hoofde van verskillende buurtwagte inligting en kontakbesonderhede kon uitruil.
“My boodskap aan die mense was: ‘Moenie moed verloor nie, moenie hoop verloor nie’, en dat buurtwagte nie die waarde van hul insette en werk moet onderskat nie. Die polisiediens het nie meer die vermoë om misdaad en maatskaplike probleme alleen te bekamp nie,” meen Cameron.
Hy glo dat buurtwagte nie op owerhede hoef te wag nie. “Buurtwagte moet ook nie net vasskop met hope patrollies nie, alhoewel dit ook goed is.
“Maar gryp in, maak die omgewing skoon, help om gate toe te stop, straatligte te vervang en sigbaarheid in ons buurte te verbeter. Neem hande met plaaslike owerhede en die munisipaliteit – en streef na die doel om ons omgewings te beveilig en te verbeter.”
Hy het verder uitgebrei oor die plaaslike situasie in die Paarl terwyl hy deurentyd staaltjies en voorbeelde uit sy praktiese ervaring gebruik het om die punte wat hy gemaak het, te belig. “Baie vrae is gevra, oplossings bespreek en die inwoners en buurtwagte wat bygewoon het, het die geleentheid gebruik om te netwerk,” deel Prins uit sy ervaring.
Die Paarl-Noord-buurtwag het sy dankbaarheid teenoor Ian Cameron, die Paarl-Noord-buurtwagspan en die NG gemeente Paarlberg uitgespreek dat hulle die aand moontlik gemaak het.


