Skinder is soos om ’n stuk sjokoladekoek in die middel van jou low carb, no sugar diet te eet. Jy smul so lekker aan die heerlike stukkie verleiding terwyl jy die skuldgevoelens hand en tand beveg.

Baie van ons swymel voor ’n aanloklike brokkie skindernuus. Ons kan dit nie weerstaan nie.

“Ek wil nou nie skinder nie, maar…” is dikwels die inleiding tot ’n stukkie nuus oor iemand wat nie teenwoordig is nie.

Jou gesonde verstand sê jy moet wegloop; jy moet sê jy wil nie agter mense se rug praat nie. Maar, helaas, voordat jy jou kom kry, het jy grootoog geluister en fluister jy agter ’n bakhand: “Moenie speel nie! Is dit?”

Vir baie mense is skinder so natuurlik soos asemhaal. Hulle is verslaaf aan skinder. Niks ontglip hul oë of ore nie. Hulle is permanent op loer deur hul kantgordyn; hulle stalk mense op Facebook sodat hulle elke stukkie detail kan inneem om gou ’n vriendin te message met: “Het jy gehoor?” En dan las hulle nog vier stertjies by ’n storie wat reeds opgeblaas is.

Die waarheid is die mense wat jou die swakste ken, het die meeste oor jou te sê.

Sommige praatsieke mense is so oorywerig om nuus te deel, dat dit al in heelwat glipsies ontaard het. Jy stuur vir jou vriendin ’n Whatsapp om te skinder oor ’n ander vriendin wat darem verskriklik maer geword het, toe beland dit op jul vriendekring se Whatsapp-groep.

Of jy stuur per ongeluk e-pos aan jou baas toe jy ’n stukkie oor hom en die getroude sekretaresse aan ’n kollega wou stuur. Ek weet nie hoe ’n mens daai klas kastaiings uit die vuur gekrap kry nie.

Skinder word amper altyd as negatief en kwaadwillig beskou, maar tog kan skinder mense nader aan mekaar bring. Dit hou die gemeenskap verbind aan mekaar.

Dis asof jy en die buurvrou, wat nooit ooghare vir mekaar gehad het nie, skielik bondgenote word toe jy ’n sappige stukkie oor die hooghartige kerksuster vertel in wie se vuil huis die rotte sokker speel.

Dis deel van ons kultuur om inligting met mekaar te deel, want ons het mekaar se welstand op die hart. Deur te skinder deel ons bekommernisse; soek ons gerusstelling en steun.

Ons moet egter nuus deel waar ons mekaar kan help. Dis tog hoe mense toentertyd oorleef het.

Terwyl ’n lekker ribbetjie sissend oor die kole onder die sterrenag braai, het ons voorouers nuus uitgeruil oor wie beeste gesteel het en wie te suinig is om te deel. Dit het hulle ’n sosiale voorsprong gegee.

Maar selfs in die Bybel word gewaarsku teen die genotvolle gewoonte van skinder en ydelheid. ’n Onverstandige mens praat met minagting van ’n ander; ’n verstandige mens swyg. Iemand wat die waarheid verdraai, veroorsaak twis en verwydering tussen vriende.

Ons almal het dit al ondervind.

Hoe voel ’n mens en wat kan jy doen as jy die “gelukkige” een is oor wie geskinder word? Jy voel verneder, jy wil gaan wegkruip en nooit weer uitkom nie. En al is die skinderstorie deels waar, het jou persoonlike sake niks met iemand anders uit te waai nie.

Selfs diewe steel nie wat ’n geskinder van ’n ander mens kan steel nie – jou reputasie en geloofwaardigheid. En dít is moeilik om terug te kry.

Mense skinder op sosiale media asof hulle ’n prys daarvoor gaan ontvang. Hoeveel van hierdie stories – wat al klein gehuggies op die map gesit en verskriktes laat trend het – het nie al tot depressie en selfs selfdood aanleiding gegee nie?

Skinder vervreem familie en vriende, want sodra vriende nie meer met jou praat nie, praat hulle van jou.

Moet nooit aan jou waarde twyfel nie. Hou jou kop hoog, al wens jy die ou heks wat agter jou rug praat, se besem brand uit.

Ignoreer die gepraat liewer, want soos ’n motor sonder brandstof nie verder kan ry nie, sal ’n geskinder se brandstof later uitbrand en oorwaai. Dink aan die skindertonge as skuurpapier wat jou skuur tot jy soos ’n stukkie goud blink.

Elke verhaal het twee kante – die loslip se kant en die waarheid. Jy kan mense nie oordeel as jy net een kant ken nie. As jy ’n mening het oor ’n saak wat niks met jou te doen het nie, lig liewer jou hand en sit dit op jou mond. Onthou, skinder kan ’n tweesnydende swaard word, want so aanloklik en genotvol soos wat ’n happie skindernuus kan wees, so lekker kan oor jou geskinder word. As jy dus weer ’n vriendin vir ’n koppie koffie en ’n bordjie skinder nooi, onthou – as jy nie weet waar die bel hang nie, moenie die klok lui nie.

You need to be Logged In to leave a comment.