Is daar nog mense wat ervaar dat sekere ontvangsdames glad nie baie vriendelik is of weet hoe om met kliënte te praat nie?

Dalk is hulle bietjie oorwerk, het ek al gewonder, maar dit is regtig nie lekker om veral vir die eerste keer na ’n plek te gaan, veral ’n mediese praktyk, en dan moet jy te bang wees om ’n vraag te vra nie, want die persoon agter die toonbank by ontvangs is kortaf en onvriendelik.

Hierdie week ervaar ek weer dat ek telefonies gebombardeer word met vrae en die persoon het geen idee of ek in die posisie is om op daardie tydstip al haar vrae te beantwoord nie. Die manier hoe dinge gevra word, het my laat wonder hoekom praat die persoon so onprofessioneel met my.

Maar net toe sy hoor waar ek werk, verander haar hele manier van kommunikasie. Ek word aangespreek as “U” en daar word toe ordentlik in volsinne met my gekommunikeer.

Dit is regtig hartseer dat sekere mense nie almal met dieselfde respek kan behandel nie. In my werk kommunikeer ek met verskillende mense en van die persoon wat dalk dakloos is tot die direkteur van ’n maatskappy behandel ek almal met dieselfde respek.

Omdat iemand dalk minderbevoorreg is, of bietjie swaar trek, gee niemand die reg om daardie persoon te behandel asof hy die skuim van die aarde is nie.

Daardie persoon verdien ook om gegroet te word, soos jy die uitvoerende direkteur van ’n maatskappy sal groet.

Dieselfde met die kassiere by die winkels. Ek was al menigmaal geskok om te sien hoe hulle met sekere mense praat. Daardie mense betaal dieselfde prys vir daardie brood wat hulle kom koop, hulle verdien sekerlik ook dieselfde hoflike diens!

Niemand verwag dat kliënte op die hande gedra word nie, maar wees net hoflik en praat ordentlik. Wanneer jy in ’n posisie is waar jy met mense werk, stel ek voor wanneer jy soggens in jou werksplek instap dat jy jou baadjie van geduld en vriendelikheid sal aantrek. Jy kan weer by die huis jou knorrige buie uithaal. Die beste is dalk om vir jou ’n werk te kry waar jy nie met mense werk nie, want soos die oumense altyd sê, “moenie van die een vis maak en van die ander een vleis nie”.


Jan Alleman,

Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.