Amber Golding saam met haar pa, Allister, ma, Liana en boetie Joshua. Voor lê haar ander boetie, Caleb.


Toe bloedkanker in 2015 op ses jaar by Amber Golding gediagnoseer is, het dit vir haar ouers soos ’n doodsvonnis gevoel.

Vandag kan Allister en Liana Golding getuig dat die siekte nie noodwendig die einde van ’n mens se lewe beteken nie. Amber is reeds die afgelope ses jaar in remissie.

Dit was nie ’n maklike paadjie om te stap nie, maar Amber het die siekte met alles in haar beveg. Die Goldings onthou Amber het in 2015 gereeld gekla van pyn in haar kop en sy het ook gereeld ’n verkoue opgedoen. Allister en Liana het ook opgelet dat sy al hoe meer blou merke op haar liggaam kry, maar hulle het aangeneem sy het dit opgedoen soos wat sy speel.

Nadat Amber in Oktober daardie selfde jaar na ’n swemles onophoudelik gebewe het en later ’n hoë koors gehad het, het haar ouers met haar hospitaal toe gejaag. Daar is verskeie toetse gedoen en die uitslae het later slegte nuus gelewer. Bloedkanker is by haar gediagnoseer.

“Ons as ouers was stukkend, hartseer en onseker wat met Amber gaan gebeur. Ons enigste toevlug was ons Hemelse Vader. Ons het geen keuse gehad as om alles oor te gee aan die Here nie. Ons moes Amber by Jesus se voete neerlê en alle geloof en vertroue in God plaas. Gebed was elke dag aan die orde.

“Ons sou dit nooit alleen gemaak het nie en was bevoorreg en dankbaar vir familie, vriende, geestelike familie, kollegas, die Laer Meisieskool La Rochelle se personeel en Amber se klasmaats, asook die Paarl-gemeenskap wat so ’n fantastiese ondersteuningsrol gespeel het. Ons het moed geskep by die Here wanneer ons moeg was of wou opgee en almal het ons gedra,” vertel Allister.

Amber se diagnose en siekte het hul familie geruk en hul lewe is onherroeplik verander. Allister sê dit het ook hul geestelike lewe en verhoudings met ander versterk. “Dit het ons geleer om dankbaar te wees vir die klein dingetjies in die lewe. Om daar te wees vir ander en ’n verskil te maak in ander se lewe. God het ook aan ons karakter gewerk.”

Die dag toe hulle die nuus ontvang dat Amber kankervry is, het ’n gevoel van opgewondenheid saam met verligting oor die Goldings gekom. Hulle het gehuil van blydskap en eer gegee aan die Here. Allister vertel daar was ’n feesviering in die G3-saal by Tygerberg-hospitaal, waar Amber behandeling ontvang het, toe die goeie nuus bekend gemaak is.

Hoewel Amber toe baie jonger was, onthou sy steeds haar ervaring by Tygerberg-hospitaal. Die familie gesels ook nog gereeld oor Amber se reis met kanker wat hulle saam-saam oorwin het. Die Goldings glo dat dit hulle voorberei het om enige uitdaging te oorkom wat die lewe na hul kant toe gooi.

“Dit het ons sterk gemaak, ons geloof versterk en ons geleer om nooit moed te verloor nie. Dit is ’n bewys dat niks by God onmoontlik is nie. As klein dogtertjie van ses jaar tot nege jaar het Amber nooit geweier of baklei teen haar chemobehan­deling, doktersbesoeke, oorslaap in die hospitaal en isolasie nie. Sy het geloof gevind in God en die pad gestap.”

Allister en Liana wil ander ouers bemoedig wie se kinders tans kanker beveg om nie moed te verloor nie.

“Ja, dit voel beslis soos ’n doodsvonnis, maar dit is nie. Ons wil elke ouer en gesin bemoedig dat dit ons en ander se geloof in die Here, gebede en ondersteuning is wat gesorg het dat Amber vandag nog leef. Keep on seeking the Lord for the life of your children. Have faith that can move mountains. Always pray.”

Amber is ses jaar in remissie en haar gesondheid is baie goed. Dit is ook nie meer nodig vir haar om vir doktersbesoeke te gaan by Tygerberg-hospitaal nie, hoewel sy nou en dan vir ondersoeke gaan by hul huisdokter.

Vandag is Amber soos enige 13-jarige kind – vol lewe en sy hou van ’n avontuur. Sy is in gr. 7 aan die Laer Meisieskool La Rochelle en neem deel aan swem, hokkie en die skoolkoor. Sy is ook lief vir teken, lees en om te gaan kamp. Amber droom daarvan om eendag ’n aktrise te word en wil graag die wêreld inspireer om elke tweede kans te waardeer. Ná alles wat sy deurgemaak het, deel Amber nou ook ’n noue band met haar twee jonger boeties, Joshua (6) en Caleb (3).

Amber het ’n boodskap vir ander kankervegtertjies wat hard teen die siekte stry. “Ek wil net vir al die jong meisies en seuns wat met kanker sukkel, sê hulle gaan daardeur kom. Alles gaan oukei wees en hulle moet op God vertrou. Daar is lewe ná kanker, en hulle moet hul drome volg.” . When Amber Golding was diagnosed with blood cancer in 2015 as a six-year-old, it felt like a death sentence for her parents. Today, Allister and Liana Golding can testify that the disease does not necessarily mean the end of one’s life. Amber has been in remission for six years.

You need to be Logged In to leave a comment.