Wellington se Mnr. SA, Heinrich Gabler, sal eersdaags Suid-Afrika internasionaal by die Manhunt International-skoonheidskompetisie in Manila in die Filippyne verteenwoordig.
Gabler, wat in die Andrew Murray-kinderhuis grootgeword het, is in Junie 2019 as Mnr. Suid-Afrika gekroon. Hy verduidelik dat die wenner van Mnr. Suid-Afrika die land by Manhunt International moet verteenwoordig. Vanjaar word die 20ste Manhunt International van 15 tot 23 Februarie gehou.
“Dit is vir my ’n ongelooflike groot voorreg om Suid-Afrika te kan verteenwoordig. Ek sien meestal uit om verhoudings te bou met die ander deelnemers van oor die wêreld,” het Gabler gesê. Volgens hom gaan die deelnemers ’n week voor die gala-aand in Manila ’n paar uitdagings voltooi, foto’s in swemdrag neem en alles oefen waarop hulle beoordeel gaan word.
Daar gaan ook van 1 Februarie tot en met die gala-aand geleentheid wees vir die publiek om vir hul gunstelingdeelnemer te stem. Die publiek kan op Manhunt International se Facebook-blad vir Gabler stem.