Peter de Villiers buite die Malmesbury-landdroshof die afgelope Maandag (24 Maart). Credit: Netwerk24/ Theo Jephta

Die omstrede politikus en voormalige Springbokrugby-afrigter van die Paarl, Peter de Villiers (67), het met sy verskyning in die streekhof in Malmesbury die afgelope Maandag (24 Maart) onskuldig op die aanklag van seksuele aanranding gepleit.

Hy staar tans drie aanklagte in die gesig, waaronder poging om ‘n seksuele misdryf te pleeg, seksuele aanranding en crimen injuria.

De Villiers word daarvan beskuldig dat hy ‘n lid van die GOOD-party in haar huis buite Malmesbury in Kalbaskraal op 30 Januarie 2023 seksueel aangerand het deur haar te probeer soen en op ‘n bed in die klaagster se huis vas te pen.

Die klaagster het tydens die hofverrigtinge getuig dat sy alleen in haar huis was die dag toe De Villiers besoek afgelê het, volgens ‘n aanlyn artikel deur Netwerk24 op 24 Maart.

Volgens dié artikel het De Villiers haar gebel om GOOD-party dokumente af te laai rakende ‘n destydse tussenverkiesing in die Theewaterskloof-munisipaliteit.

Die dokumente het glo uiteengesit wie betaal moes word wat die tussenverkiesing betref.

Volgens haar het sy gevra dat mense hierdie dokumente na ‘n vergadering moes bring, eerder as om by haar huis af te laai.

Nadat De Villiers haar gebel en gesê het dat hy op pad na haar was, het sy dit toegelaat omdat hy op daardie stadium ‘n senior lid van die party was.

Met sy aankoms het die klaagster vir De Villiers koffie gemaak wat hy onder ‘n afdak aan die agterkant van die huis gedrink het. Die klaagster was binne haar woning, maar het op ‘n stadium na De Villiers gegaan nadat hy haar geroep het.

Hier het hy haar uitgevra oor haar man wat toe weens werk oorsee was.

Sy het hom nie geantwoord nie, en het teruggekeer na binne waarna hy ingekom en sy koppie in die wasbak gesit het.

Hierna het die klaagster opgestaan om De Villiers te groet, waarna hy gesê het “gee my ‘n k*k soen”, berig Netwerk24.

Hy het haar arms vasgehou, maar sy kon met een hand haar mond toedruk omdat De Villiers haar steeds wou soen.

Daarna het hy die klaagster na ‘n kamer met ‘n enkelbed gestoot en op die bed vasgepen, met hom bo op haar.

“Hy wou net soen en aangaan,” sê die klaagster.

De Villiers het egter na ‘n ruk self van die bed af opgestaan en by die voordeur uitgeloop, waarna die klaagster agter hom aangehardloop en gesê het: “Jou blerrie boelie”.

Hy het geantwoord: “Ja, ek is”, voordat hy in ‘n GOOD-partyvoertuig geklim en weggery het.

Nadat sy gestort het, is sy na die Malmesbury-polisiekantoor om ‘n saak aanhangig te maak.

‘n J88-verslag is die volgende dag voltooi, wat gewys het dat sy kneusplekke aan haar lyf gehad het, luidens die artikel.

De Villiers was voorheen ‘n lid van die GOOD-party – eers vir die Drakenstein-munisipaliteit van 2021 tot 2022 en toe in die Wes-Kaapse wetgewer sedert 2023.

Hy is egter in Februarie 2024 geskors weens hierdie hangende saak.

Hy was ook van 2008 tot 2011 die Springbok-rugbyspan se afrigter.

De Villiers is tans ‘n lid van die MK-party.

Sy aansluiting by hierdie politieke party is aan Paarl Post deur Nhlamulo Ndhlela, ‘n woordvoerder van MK, bevestig.

Volgens Ndhlela is De Villiers op 15 Januarie as ‘n tydelike “gewone lid” ingehuldig totdat die party besluit watter rol hy sal vervul.

Sy inhuldiging het op John Hlophe, adjunkpresident en parlementêre leier van die MK-party, se plaas in die Paarl-omgewing in Januarie vanjaar plaasgevind.

Die Paarl Post het na De Villiers uitgereik vir kommentaar, maar geen terugvoering ontvang nie.

Sy volgende hofverskyning vir kruisondervraging is op 7 Mei.

You need to be Logged In to leave a comment.