’n Inwoner van Paarl-Wes spreek Dinsdagaand ’n verteenwoordiger van die departement van korrektiewe dienste op ’n gemeenskaps­polisiëringsforum-vergadering toe.Foto: Rasaad Adams


Tydens ’n gemeenskaps­polisiëringsforum (GPF)-vergadering Dinsdagaand, met die Paarl-polisie en Paarl-Wes-gemeenskap teenwoordig, het die polisie en die departement van korrektiewe dienste in die Paarl gehoor hoe die GPF sy kommer uitspreek oor die toename in misdrywe in die middedorp en dat baie daarvan vermoedelik deur gereelde misdadigers gepleeg word wat onlangs vrygelaat of op parool uit is.

Die vergadering het by WA Joubert Primêre Skool plaasgevind en is bygewoon deur brig. Nokuthula Pete, die Paarl-polisie se bevelvoerder, asook Angelo September, administratiewe hoof by die departement van Korrektiewe Dienste in die Paarl.

Inwoners wou onder meer by September hoor watter proses gevolg word wanneer parool aan beskuldigdes toegestaan word.

September het verduidelik dat beskuldigdes in ’n paroolverhoor verskyn en korrektiewe dienste nie baie invloed oor die besluit het nie.

“Korrektiewe Dienste het nie die mandaat om self te besluit watter misdadigers vrygelaat word nie. Dit geld ook vir onwettige immigrante wat vir misdrywe aangekeer word. Ons kan nie self spesiale remissie of amnestie aan hulle toestaan nie. In só geval kom die instruksie van die president af.

“Die paroolraad word aangestel deur die minister van korrektiewe dienste en bestaan hoofsaaklik uit gemeenskapslede. Hulle is gewoonlik mense met ’n mate van invloed in hul gemeenskappe en daar word seker gemaak dat hulle geen misdaad-agtergrond het nie. Korrektiewe Dienste dien dan ook op die verhoor, maar bloot om die raad met die nodige dokumentasie en agtergrond oor die beskuldigde te voorsien.”

Volgens September is die land se gevangenisse tans oorval, met meer as 120% okkupasie.

Die inwoners het gemeld van die misdrywe wat tans in die middedorp aan die toeneem is, sluit sakeroof en diefstal, veral uit voertuie, in en gesê na bewering vind baie ongerymdhede plaas by talle sakeondernemings wat deur buitelandse burgers besit word.

Strate soos Lady Grey-straat, Hoofstraat, Nuwestraat, Bergrivier-boulevard en Jan van Riebeeckweg is as brandpunte geïdentifiseer.

Volgens Pete het die misdaadtendense in die Paarl sedert haar betrokkenheid by die Paarl-polisie in 2005 drasties verander.

“Die Paarl was destyds nooit ’n problematiese dorp nie. Dit was baie rustig. Misdadigers het in daardie stadium eintlik ’n fout gemaak as hulle probeer het om hier probleme te kom veroorsaak.

“Die polisie was op hul hoede en het baie vinnig reageer wanneer klagtes ingekom het.

“Ons het veral nie so baie probleme in die middedorp gehad soos wat daar tans is nie. Ek dink daar is ’n skerp toename in informele handelaars, en baie van hierdie eienaars slaap selfs in die winkels.

“Ek was reeds in gesprek met die verskeie sektorbevelvoerders oor die misdaadtendense en sakeroof gaan een van ons sleutel-fokuspunte wees – veral omdat ons nou in die feesseisoen inbeweeg,” het Pete gesê.

Die polisie het inwoners ook op die vergadering gewaarsku oor kubermisdaad en bedrog by outomatiese tellermasjiene (OTM’s) in die middedorp en winkelsentrums.

Inwoners is gewaarsku om veral oor die komende Kersseisoen op hul hoede te wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article