Minstens 50 mense is dakloos gelaat nadat altesaam 10 strukture Sondagaand (27 Oktober) in ’n brand by die Chester Williams- informele nedersetting in Amstelhof, Paarl, vernietig is.
Eda Barnard, uitvoerende direkteur vir openbare veiligheid by die Drakenstein-munisipaliteit, het by navraag gesê munisipale branddienste is omstreeks 21:45 Sondagaand na die brand ontbied.
Volgens Barnard was munisipale amptenare vroeg Maandagoggend op die toneel om die omvang van die skade te bepaal en die inwoners wat haweloos gelaat is, by te staan.
“Die munisipaliteit het voedselpakkies en komberse voorsien, sowel as pakke met noodsaaklikhede om inwoners te help om hul huise te herbou. Verder is die brandrommel in die gebied skoongemaak,” sê Barnard.
Die Drakenstein-plaaswag het ná die brand in ’n verklaring gesê hy het sy hulp aan Drakenstein se branddienste gebied, maar dat daar glo nie ’n beslissende antwoord ontvang is nie.
“Oomblikke later het ons ’n ernstige versoek om hulp van die publiek en private sekuriteit ontvang aangesien die vuur buite beheer gebrand het.
“Ons was toe binne enkele minute op die toneel aangesien ons hoofkantoor nie te ver van daar af geleë is nie.
“Ons 6 000-liter-tenkwa is ingespan en ons het vinnig twee lyne gehad om die brand onder beheer te bring,” lui die plaaswag se verklaring.
Die plaaswag het ook bygevoeg dat Sondagaand se ongunstige weer brandbestryding moeilik gemaak het.
Kelvina Goedeman, een van die inwoners, het Maandag emosioneel aan Paarl Post vertel hoe sy en tientalle ander gesinne alles in die brand verloor het.
“Ek het ’n geskree gehoor en toe my man gevra wat daarbuite aan die gang is.
“Ek weet nou al dat wanneer mense so skree, dan brand dit hier by ons.
“Toe ons uitgaan, toe is my skoonsuster se plek al tot op die grond afgebrand.
“Ons het selfs nog gesukkel om ons seun wakker te kry, want hy het te veel rook ingeasem. My man het hom toe opgetel en na buite gedra.
“Hy is toe weer terug in ons hok in om te kyk of hy die vlamme kan keer. Net daar het die dak op hom ingegee en ons moes hom toe help.”
Sy vertel verder dat die gesin hulpeloos toegekyk het hoe al hul besittings voor hulle in puin gelê is.
“Ons kon niks red nie – niks nie. Ek het nie eens ander klere om vandag aan te trek nie.
“Ons het gisteraand heelnag in die reën gesit en kyk na ons plekkies. Ons weet nie hoe ons ooit weer gaan kom aan dit wat ons gehad nie,” sê sy met trane in haar oë.
Goedeman, haar man en twee seuns woon al bykans 20 jaar in die informele nedersetting.
“Ons almal se grootste verlange in dié tydperk is dat die munisipaliteit ons sal bystaan. Ek bly nou al vir amper 20 jaar in die plakkerskamp en dis hoe lank ons al wag vir ’n huis. Hier is mense wat nog langer as ons hier bly. As hulle nie nou vir ons help nie, maak hulle plek vir nog brande.”
Hoewel sy nie veel daaroor uitgewei het nie, sê Barnard daar is reeds planne in die pyplyn om die lewensomstandighede in hierdie informele nedersetting te verbeter.
“Dit vorm deel van die Wes-Kaapse regering se opgraderingsprogram vir informele nedersettings, wat tans in die beplanningsfase is,” vertel sy.
Volgens Barnard bestaan die Chester Williams- informele nedersetting uit 142 strukture en huisves ongeveer 531 inwoners.
Die oorsaak van die brand word nog ondersoek.
Niemand is beseer nie.