Die Klapmuts-plaaswag het op 3 Junie saam met John Steenhuisen, minister van landbou, en Ian Cameron, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie ‘n patrollie in Klapmuts uitgevoer.

Die Klapmuts-plaaswag het verlede week, in samewerking met verskeie belanghebbendes, ‘n patrollie in die landelike gebiede van Klapmuts uitgevoer met die doel om misdaad in dié gebied onder die aandag van die Wes-Kaapse regering te bring en moontlike oplossings te bespreek.

John Steenhuisen, minister van landbou, en Ian Cameron, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie, was albei teenwoordig tydens die patrollie, saam met lede van die Klapmuts-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), JC Anthony, die Klapmuts-raadslid, sowel as verskeie private sekuriteitsmaatskappye in die Stellenbosch-omgewing.

Volgens Erica de Villiers, woordvoer- der van Klapmuts-plaaswag en begeleier van die patrollie, was die doel van die patrollie om politieke verteenwoordigers bewus te maak van die misdaaduitdagings, veral in die landelike gebiede rondom die dorp.

Sy verduidelik dat die patrollie omstreeks 20:00 begin het, waarna al die belanghebbendes na die buitewyke van die dorp begelei is, insluitend die Protea- en Groenfonteinpad, waar verskeie plase geleë is en waar inbrake gereeld voorkom. Die groep is ook deur De Villiers na die informele nedersetting skuins oorkant die Klapmuts-polisiekantoor, wat tans aan die N1-snelweg grens, geneem. Hier is die uitdagings rakende dié nedersetting met Steenhuisen en Cameron bespreek.

Paarl Post het reeds breedvoerig oor die informele nedersetting berig, wat moontlik bydra tot die toename in misdaad in die omgewing rondom die Protea- en Groenfonteinpad.

Die patrolliegroep het ook by Frankie’s Corner, op die hoek van die R304 en die R101 (ook bekend as die Ou Paarlpad), ‘n besoek afgelê om inligting te verkry oor dié gevaarlike kruising waar reeds verskeie padongelukke voorgekom het, asook die uitdagings verbonde aan die installering van verkeersligte hier.

Die moontlikheid om hommeltuie as ‘n vorm van misdaadbekamping in te span, is ook met Steenhuisen en Cameron bespreek. Volgens De Villiers is dié projek, wat deur Klapmuts-plaaswag oorweeg is, voorlopig gestaak weens die administratiewe rompslomp verbonde aan lisensies en toestemming van grondeienaars.

De Villiers beklemtoon dat die patrollie insiggewend was, en dat die plaaswag uitsien na goeie samewerking met die provinsiale departement van landbou om misdaad in die gebied te bekamp.

You need to be Logged In to leave a comment.