’n Aangepaste definisie wat Afrikaans as inheemse taal in die omstrede taalbeleidsraamwerk vir openbare hoëronderwysinstellings sal weerspieël, sal in die Staatskoerant gepubliseer word, sê dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderrig, wetenskap en innovasie.
So het hy onlangs op parlementêre vrae oor die kwessie geantwoord. Hy het dié versekering aan dr. Leon Schreiber, ’n DA-LP, in ’n parlementêre antwoord gegee.
“Ek hoop dit sal hierdie saak eens en vir altyd afsluit en ons aandag opnuut herfokus op die hooftaak op hande – om waardigheid en respek te bring aan al ons histories gemarginaliseerde inheemse tale, soos die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van ons vereis,” het Nzimande gesê.
Hy het egter nie gesê wanneer dit gepubliseer sal word nie.
Die ommeswaai volg nadat Nzimande in Mei gedwing is om ’n regsmening wat hy ná volgehoue druk van Schreiber daaroor ingewin het, openbaar te maak.
Hy het die mening reeds in Oktober verlede jaar ontvang. Daarin word aanbeveel dat Nzimande dit moet oorweeg om die taalbeleidsraamwerk, wat op 1 Januarie vanjaar in werking getree het, te wysig om die inheemse status van Afrikaans en die Khoi- en San-tale daarin, te erken. Nzimande het gesê sy departement het die regsmening “ontvang, oorweeg en aanvaar”, sowel as die behoefte aan beleidsaanpassing om dit duidelik te weerspieël “sodat ons nie onnodig afgelei word van die . . . taak om ons histories gemarginaliseerde tale te ontwikkel nie”.

