Inwoners van Gouda voel afgeskeep deur die Drakenstein-munisipaliteit met die minimale geriewe wat vir dié dorpie beskikbaar is.
Paarl Post het verlede week klagtes ontvang dat daar geen openbare toilette vir lede van die publiek in die dorp se sakekern is nie.
Die klaer sê omdat daar geen openbare toilette in die middedorp is nie, verlig landelike werkers – wat naweke inkopies kom doen – hulle aan die agterkant van die ondernemings, tot groot ontsteltenis van sake-eienaars in die dorp.
“Dit skep ’n swak indruk by my kliënte,” het een van die eienaars gesê.
Volgens die klaer het die raadslid van Gouda, Catherine Jacobs, gesê sy weet van die probleem, maar dat sy die probleem geërf het en geniet dié saak dringende aandag.
Volgens Ernest Saayman, waarnemende uitvoerende direkteur: gemeenskapsdienste, Drakenstein-munisipaliteit, is die openbare geriewe in Gouda in die omgewing van die gemeenskapsaal geleë. “Ons het na die munisipaliteit se Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) se strategiese prioriteitslys gaan kyk, maar kry nie die klagte waarna hier verwys word op dié lys nie. Sodra die gemeenskap van Gouda sodanige prioriteit op dié lys plaas, sal die munisipaliteit die moontlikheid ondersoek om kapitaalbegroting beskikbaar te stel vir die bou van openbare geriewe in Gouda se sakekern,” het Saayman gesê.
“Intussen sal ons na bepaalde grondgebruike kyk en geskikte grond daarvoor probeer identifiseer, asook die moontlikheid ondersoek om mobiele toilette in die middedorp van Gouda te plaas.”


