Mienke Ehlers, ’n oud-Girls’ Higher wie se wortels steeds diep in die Paarl lê, reik behoorlik na die sterre as Mia in die Shomax treffer-reeks Wyfie. As Mia vertolk Ehlers, wat voorheen rolle as Lydia in Magda Louw en Dalena in Dinge van ’n Kind gehad het, haar eerste hoofrol, en daarmee saam is sy ook een van dié reeks se blinkste sterre met Huisgenoot wat haar “vuurwarm deurbraak” prys.

Amanda Tremeer het met dié opkomende ster gesels.

Waar was jy op universiteit? Word jou eie universiteitservaring in Wyfie gereflekteer?

“Ek het die afgelope tyd baie gedink aan my universiteitsjare. Ek het op Stellenbosch drama studeer vir drie jaar en is daarna Afda(-rolprentskool) toe vir my honneursgraad in toneelspel.

“Ek was in die koshuis in Stellenbosch. Ek was vir ’n jaar in Erica-vrouekoshuis. Ek was mal oor die koshuis en om ’n Matie te wees.

“Ek was baie meer trots as wat Mia is. Sy is nogal ’n sluiper wat nie regtig enigiets voel vir instellings of reëls of groot, trotse projekte om van deel te wees nie. Ek is nou weer baie stout daarvoor!

“Ek het netbal vir Maties gespeel. Ek was mal oor skakels en mense leer ken; ek is ’n sosiale vlinder.

“Ek het nou die dag iemand hoor sê dat ’n student nie ’n mens is nie, eerder ’n toestand. Dít is vir my so snaaks, want daar is so baie van my universiteitsjare wat opduik wat ’n mens rêrig eerder nie wil onthou nie, maar dit is ook so ’n vrye seisoen en dit was die mooiste ding om weer daai dele van my lewe te kan ondersoek.”

Waaroor gaan Wyfie?

“Dit is ’n reeks wat regtig voor sy tyd is – die soort projek waaroor ek nog altyd gedroom en voor gewens het – om Afrikaans se appelkar onderstebo te gooi en nie skaam te wees om dinge te sê en te wys presies soos wat dit is nie.”

Wie is jou karakter?

“Mia Meyer is ’n universiteitstudent. Sy is braaf; sy is roekeloos; sy maak my soms bang. Sy is iemand wat die lug uit ’n vertrek suig as sy daar inloop. Ek voel soms, in vergelyking met haar, te lig in die broek.

“Mense wil na aan haar wees, maar dit is baie moeilik om haar te vertrou, want sy vertrou net haarself. Sy is ’n eiland en almal wil op haar eiland kom, maar daar is ’n klomp haaie wat om daai eiland swem, dus is dit baie moeilik om deur te kom . . . Maar as jy naby kom, gaan sy baie lojaal en baie liefdevol teenoor jou optree.”

Hoe was jou tyd op stel saam met die ander hoofaktrises – Beáta Bena Green, Celeste Loots en Kirsten Raath?

“Die vreemde ding is dat ons mekaar al voor Wyfie geken het. Ek en Celeste ken mekaar van laerskool af, maar het kontak op hoërskool verloor. Ek en Beáta het saam geswot. En ek is al lankal ’n aanhanger van Kirsten se werk.

“Ek het nou die dag vir die meisies gesê ek dink een van my gunsteling-emosies in die lewe is om te sien hoe vroue mekaar toelaat om ’n ruimte te vul wat jy weet die ander een se ruimte is. En dit is absoluut duidelik by ons vier. Ons is groot persoonlikhede, elkeen enig in sy soort, maar ons laat mekaar regtig toe om die ruimtes te vul. Ons speel spansport op stel, ons gooi die bal, ons vang die bal, ons help verdedig.

“Dis altyd ongelooflik om ’n vriendskap as ’n karakter te ondersoek en dit dan terselfdertyd ook as jouself te doen. Ek is baie lief vir die karakters, maar ek is baie meer lief vir die akteurs. Ek ervaar ons maak regtig die ruimte oop en positief vir mekaar.

“As jy jonk is en nuwe mense ontmoet, vertrou jy hulle met jou hele hart. Ek het dit gemis, en daarom het ek ’n bietjie daarvan by Mia gesteel, want dit is ’n ongelooflike ervaring om te hê – waar jy voel jy hoort in die groep en jy ervaar liefde wat net oorweldigend is.”

Waarom wou jy ’n akteur word?

“Ek het nog altyd geweet ek wil ’n akteur word. Ek het in ’n huis grootgeword waar my ouers vir my en my sussie rêrig enige gesprek by die grootmenstafel oopgemaak het. En ek het baie vroeg begin redeneer en oor wêreldkwessies gepraat en rusie gemaak en ons het sommer debat by ons huisvergaderings op Sondae gehad.

“Ek dink dus die feit dat my ouers die wêreld vir my baie klein gemaak het deur my te hoor en te sien, het my rêrig in myself laat glo wat toneelspel aanbetref. Wesenlik is toneelspel vir my jy wat jou emosionele intelligensie heeldag beoefen en jy probeer net scenario’s met emosies uitbeeld.

“Ek is toegelaat om dit in my persoonlike lewe te doen en dit was iets wat ek geweet het ek vir ewig wou doen.

“My pad daarheen was ’n bietije langer. Ek het die eerste vyf jaar van my loopbaan alles behalwe toneelspel gedoen. Soos elke goeie aktrise was ek ’n kelnerin, ’n persoonlike afrigter, ’n kosstilis – noem maar op.

“Ek het lank agter die skerms in die kostuumdepartement en die kunsdepartement gewerk. Ek was dus redelik georiënteerd met ’n filmstel voordat ek as akteur opgedaag het, en ek dink dít het my baie oor film-etiket geleer en dat jy net ’n spanspeler in die proses is. Ek is baie dankbaar vir daardie ervaring.

“Ek het my eerste groot rol drie jaar gelede in ’n kykNET-reeks gekry. Ek is dus nog nat agter die ore en het nog baie om te leer, maar ek is regtig ongelooflik dankbaar om hier te wees.” .Al 45 episodes van die eerste reeks van Wyfie is van Dinsdag 9 Julie op Showmax beskikbaar, met die tweede reeks van dié treffer-universiteitsdrama wat van 6 Augustus begin stroom.

You need to be Logged In to leave a comment.