Die kleintjies by die Learning Tree-kleuterskool en nasorgsentrum in Simondium het Vrydag (2 Februarie) aandagtig geluister na die stories wat deur die lid van die uitvoerende raad, dr. Ivan Meyer, aan hulle voorgelees is.
Meyer, ook die Wes-Kaapse minister van landbou, het die kinders met sy besoek aan die nasorg aangemoedig om te lees.
Hy het ook leesstof geskenk wat gepas is vir die kinders en om hul kennis te help verbreed.
Buiten die boeke het Meyer se skenking ook komberse, vrugte, balle en papier ingesluit. Die kinders was heel opgewonde en het tydens storietyd aan sy lippe gehang – en toe hy ’n paar toertjies met die vrugte probeer het.
Charlene Elliot, Learning Tree se skoolhoof, en haar span – Chevonne Pietersen en Marilene de Wet – is dankbaar vir die skenking.
Elliot vertel die skool het sedert 2017, toe dit gestig is, baie uitgebrei.
Hulle het met 14 kinders begin en staan vandag op altesaam 30 leerders.
“Die groei van die nasorg en die toewyding van sy personeel illustreer ’n sterk gemeenskapsverband en ’n inspirerende toewyding aan die welstand van die leerders van Simondium.”
. The little ones at the Learning Tree nursery school and aftercare in Simondium listened attentively to the stories read to them by MEC Dr Ivan Meyer last Friday (2 February).


