Moosa Moosa het op 28 Junie 1997 sy laaste asem op 76-jarige ouderdom uitgeblaas – ná ’n leeftyd as meubelmaker in Ambagsvlei in Hugenote in die Paarl.
Sy nalatenskap leef voort en baie onthou die bekende “Meneer Moosa”, wat destyds stoele vir onder andere die oorlede Koning George van Engeland gemaak het.
Badriyah Kurz (54), ’n dogter van Moosa, het aan die Paarl Post vertel dat haar pa se liefde vir houtwerk reeds op 14-jarige ouderdom begin het toe sy oupa hom daaraan bekendgestel het.
Volgens ’n 1973-berig in Rapport was Moosa se oupa ’n wamaker, maar met die koms van motors moes hy van rigting verander. Later het hy sy kleinseun die kuns om meubels te maak, geleer.
“Om meubels te maak, was altyd in die Moosa-bloed,” het Kurz gesê.
Volgens haar het haar geliefde “Bieya”, soos sy en haar sibbe hul pa genoem het, vir Achmat Richards gewerk, wat bekend was as die “stinkhoutkoning”. Die destydse stoel van die burgemeester is deur Richards se werkswinkel vervaardig, waar Moosa ook ’n hand bygesit het.
’n Verdere historiese projek wat Moosa aangepak het, was om Koning George van Engeland, wat die Paarl in 1947 besoek het, se stoel te maak.
Volgens Rapport se berig het Moosa gehelp om 24 stoele vir die koning se besoek te maak.
Moosa het uiteindelik sy eie werkswinkel in Ambagsvalleistraat geopen, en dit met sy aftrede verkoop.
“Sy gunsteling-houtsoort was stinkhout, maar met die tyd het dit te duur geword, dus het hy begin om imbuia en geel- en swarthout te gebruik,” het Kurz gesê.
Haar pa was toe ook die enigste vervaardiger van handgemaakte Kaaps-Hollandse en Victoriaanse meubels, en het dit op die “ou” manier met tapgatvoeë en swaelstertlaste gemaak, volgens ’n 1981-artikel in die destydse tydskrif Wynboer.
Die Moosa-familie is oorspronklik van Maleisië, en Moosa se pa van Ceylon, of te wel Sri Lanka, soos dit vandag bekendstaan, voordat hulle hulself in die Paarl tuisgemaak het.
“Sy menslikheid en deernis vir sy gesin en mense in die gemeenskap” is een van sy eienskappe wat Kurz ook sal onthou.
Moosa het ses kinders agtergelaat – ’n dogter en ’n seun uit ’n vorige huwelik, en drie dogters en een seun uit sy laaste huwelik.


