Die Stad Kaapstad is in rou ná die dood van ’n metro-polisiebeampte, Tyler Lamb (30), wat Vrydag (7 November) in Kensington dood is terwyl hy ’n verdagte agernagesit het.
Volgens inligting beskikbaar was Lamb aan diens en het agter verdagtes in ’n skietvoorval op ’n dak aangehardloop toe hy tydens ’n skermutseling geval en sy bewussyn verloor het.
Ten spyte van die beste pogings van nooddienspersoneel en hospitaalpersoneel is bevestig dat Lamb kort daarna aan sy beserings beswyk het.
“Dit is ’n groot verlies vir die direktoraat van veiligheid en sekuriteit en ek wil my innige meegevoel aan sy geliefdes oordra,” lui ’n verklaring van die raadslid JP Smith, die metro se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit. “Woorde beteken min in ’n tyd soos hierdie, maar die metro-polisiedepartement sal ondersteuning aan sy familie bied, insluitend toegang tot die stad se kapelaandiens.”
Vier verdagtes is later in verband met die voorval aangekeer en in hegtenis geneem en verskyn vandag (Maandag 10 November) in die landroshof in Kaapstad op aanklagte van moord, sakeroof en die onwettige besit van ammunisie.
Medelye vir Lamb het op Facebook ingestroom. Hy was ’n pa en ’n eggenoot.
Die “KenFac”-belastingbetalersvereniging (Kensington en Factreton) het gesê: “Ons is diep bedroef oor die afsterwe van Tyler Lamb van die metro-polisiedepartement. Lamb het ons gemeenskap met onwrikbare toewyding en dapperheid beskerm en gedien. Sy pligsgetrouheid sal nooit vergete raak nie. Ons gedagtes en gebede is by sy familie, vriende en kollegas in hierdie moeilike tyd. Mag sy siel in vrede rus en mag sy geliefdes troos vind in die wete dat sy opoffering altyd met dankbaarheid en respek onthou sal word.”


